Werkers aangehou en aangerand — 3 verdagtes soek

Leoni Kruger
LEPHALALE — Vroulike werknemers van die plaas Leadwood in die Tambotie/Overyssel-omgewing is Dinsdagmiddag 11 Julie rondom 18:00 deur drie mans oorval, aangerand en vasgebind. Hulle is nie verkrag nie.
Die verdagtes het verskeie goedere uit die lodge gesteel asook ‘n 30.06-jaggeweer. Mense uit die omgewing het dadelik hulp verleen en die spore is gevolg tot by die Beauty-grondpad waar hulle deur ‘n voertuig opgelaai is. Die drie verdagtes is nie bekend aan die werknemers nie.
Die bestuurder van Leadwood, Mike Embleton, sê van die werkers het hom Maandag 10 Julie geskakel en gesê daar is vreemde spore op die plaas. Hy was op daardie stadium in Johannesburg, maar het dadelik die ander plaaseienaars en –bestuurders in die omgewing laat weet.
Twee van die spore is dié van ‘n skoen met ‘n gladde sool en die ander dié van ‘n tekkie. Die spore het aangedui dat hulle by die Beauty-grondpad opgelaai is.
Iemand het ook ‘n verdagte takmerker in die pad opgemerk.
Een van die plaaseienaars in die omgewing het Sondagoggend 10 Junie om 04:30 ‘n wit Golf met vyf insittendes op die Beauty-pad opgemerk. Hulle het op en af in die pad gery en by nadere ondersoek het hulle gesê hul is op pad na ‘n begrafnis toe.
Dit was teen druktyd onseker of die voertuig en die insittendes met die voorval verbind kan word.
Teen druktyd was Villa Nora SAPS en lede van die Heritage Protection Group (HPG), ‘n spesialis misdaadondersoekgroep op pad na die toneel maar niemand was nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Die ondersoek duur voort.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.