Wetteloosheid seëvier

Leoni Kruger
LEPHALALE — Lede van Lephalale gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), in samewerking met Lephalale SAPD, het Vrydagaand ‘n misdaadvoorkomingsoperasie in die dorp geloods en verskeie “donker areas” is uitgewys.
Volgens Thys Eloff, GPF-voorsitter, is hulle na elke operasie opnuut onder die indruk van die wetteloosheid in die dorp en omliggende gebiede.
“Ons is baie bekommerd oor die hoeveelheid mense wat onder die invloed van alkohol bestuur. Stoptekens word eenvoudig geïgnoreer en die mense jaag soos besetenes” sê hy.
Verskeie bosslapers is in die oop area oorkant Lephalale Mall gevind en aan die polisie oorhandig. Baie ongedokumenteerde vreemdelinge is ook gevind.
Volgens Eloff is dit ook onrusbarend hoeveel mense, veral oor naweke, die munisipale regulasies in totaliteit ignoreer. Gasstofies word in die pad uitgepak en kos word gemaak. Musiek blêr uit voertuie se kattebakke en die mense drink openlik in die openbaar. Mense urineer en dans in die pad.
Eloff het dit baie duidelik gemaak dat die eienaars van kuierplekke moet bewus wees daarvan dat dit reglyn teen die wet is om alkohol te verkoop aan iemand wat reeds ooglopend “onder die prop” is. “So ‘n persoon moet gevra word om die perseel te verlaat en nie verder drank gevoer word nie”, sê hy.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.