Wie se gemors? Wie is verantwoordelik?

LEPHALALE — Dit is reeds ʼn geruime tyd dat Lephalale as ʼn vuil dorp beskryf en beskou word. Met reg. Dit is so.

Mopani Bande besig in die rivier

Mogol Pos het al by verskeie geleenthede daaroor berig asook wanneer skoonmaakaksies plaasvind.

Só het ʼn klompie inwoners weer eens Saterdag 10 November op verskeie plekke in Lephalale ʼn verskil probeer maak. Mense wat glo in ʼn netjieser, skoner dorp en dat daar wel hoop is op verbetering en dan betrokke raak by dié tipe aksies.

Mopani Bande het ʼn uitnodiging gerig aan persone wat beskik oor viertrekvoertuie, motorfietse en elkeen wat kans sien om die Mokolorivier aan te durf om Saterdag by hulle aan te sluit vir opruiming vanaf die veilingskrale.

Volgens Karel Naude, bestuurder, het daar ongeveer 20 voertuie tussen 07:00 en 08:00 opgedaag. Die area rondom die brug en vir ongeveer ses kilometer in ʼn suidelike rigting is hope rommel opgetel en talle swartsakke vol vullis is weggery.

Agter Lephalale Mall en langs die pad op pad vliegveld en Boschpoort toe het Anita van Biljon ʼn span geïnisieer. ʼn Groot trok van Ellisras Bou- en Hardeware het gehelp om die vullissakke weg te ry en Anita sê dit was “te veel sakke om te tel”. In Haakdoringstraat het Joe Meyer en ʼn span 23 sakke vullis bymekaargemaak en by die stortingsterrein gaan aflaai.

Danie van der Walt van die konstruksiemaatskappy, Kaefer Energy SA, wat Oktober die Team up to Clean up-veldtog geloods het, het weer eens handskoene en vullissakke verskaf.

Die algemene mening is dat opvoeding nou hoë prioriteit moet geniet, aangesien mense reeds weer strate bemors het waar skaars ʼn maand gelede skoonmaakaksies gehou is. Nóg opsies is dat gewone mense geldelik vergoed moet word wat vullis vir herwinning bymekaarmaak.

Die vraag bly egter: Wie se gemors? Wie se verantwoordelikheid?

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.