Wil woef wandel?

Leoni Kruger
LEPHALALE — Honde wat in besige strate ronddwaal is die laaste tyd nie meer ‘n vreemde gesig nie. Daar word daagliks op sosiale media foto’s geplaas van honde wat in die strate rondloop.
Die plaaslike dierebeskermingsverening kan geskakel word om dié honde op te laai en na hulle toe te neem, maar hulle voertuig is nie altyd beskikbaar nie. Die personeel van die DBV het boonop hulle hande vol met ander belangriker take en om elke keer te ry om ‘n hond wat in die straat loop dt gaan oplaai is uiters onproduktief en nie koste-effektief nie.
Die DBV doen rig dus ‘n vriendelike versoek aan alle honde-eienaars om seker te maak die diere is in die erf – veral bedags as almal by die werk is. Maak seker jou elektroniese hek maak toe voordat jy ry en doen gereeld inspeksie om seker te maak daar is nie gate onderdeur jou heining gegrawe nie. Praat met die huishulp of ander werkers op die perseel en sê hulle moet seker maak die honde verlaat nie die erg nie.
In ‘n artikel in www.goeiehuishouding.co.za/maak-jou-erf-woef-bestand/ grawe die meeste honde gate uit verveeldheid of ontsnap hulle uit die erf op soek na avontuur.
Dit kan ook wees dat honde smag daarna om tussen die “vier mure” uit te kom omdat hulle opgehoopte energie het. Alle honde het oefening nodig en dit is deel van hulle samestelling om te hou van nuwe reuke en plekke. Volgens ‘n professionele honde-afrigter is dit belangrik om minstens ‘n halfuur elke dag met jou honde te gaan stap – dit verseker dat hulle ontslae raak van opgeboude energie.
Baken ’n speelplek in jou tuin af waar jou hond na hartelus kan grawe en baljaar – dis egter belangrik dat dit naby die gesin se normale kuierplek of braaiarea is, sodat die honde voel asof hulle deel is van die gesin.
‘n Goeie idee is om ‘n paar “koubederfies” in woef se speelarea te begrawe sodat hy of sy dit moet soek.
As jy nooit met jou hond gaan stap nie, is hy meer geneig om te probeer uitkom. Lê hoenderhokdraad onder die grasperk of sit bakstene of sementblokke al langs die heining om te keer dat hy aan ’n ontsnaproete begin grawe. Dis belangrik om te onthou as jy daagliks tyd met jou hond deurbring, ook in die huis saam met die gesin, sal jou beste vriend minder geneig wees om te probeer ontsnap.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.