Wildbedryf bedank dr. Kriek

Mense uit die wildbedryf het Saterdag 23 April na die Noord-Kaap opgeruk om dr. Kriek te bedank vir sy jarelange toewyding aan die bedryf.
‘n Paar bosse het binne ‘n jaar plek gemaak vir ‘n pragtige veilingskompleks met moderne fasiliteite en groen grasperke. Die gesellige tente, eet- en drinkgoed, asook kindervermaak het gesorg dat die meer as 1 000 mense wat by die veiling opgedaag het ‘n heerlike veilingservaring gehad het.
Kriek Wildlife Group en 17 gasverkopers het 237+ 1 topgenetika diere van die Noord-Kaap op die veiling aangebied. Die twee hoogtepunte van die veiling was ongetwyfeld die bastergemsbokbul, Harry 32.5” seun van Majestic 34.5”, wat vir R4.4 miljoen aan Thaba Tholo verkoop is en die swartwitpensbul Andrew 48 1/8”, seun van Piet 53 5/8”, is vir R4 miljoen aan Glynn Harry Game Reserve verkoop. Swartwitpensverse het bo verwagting goed gedoen met ‘n Mattanu Queen 38.75” dogter, dragtig van Andrew wat R525 000 behaal het. Vier Bastergemsbokverse is vir R475 000 stuk verkoop.
Die vraag na buffels is vanjaar baie goed en dié veiling was geen uitsondering nie. Vier Monsterdogters dragtig van Shangaan het onder die hamer gekom met Izinga Game wat al vier die koeie gekoop het en bereid was om tot R500 000 stuk vir die diere te betaal.
Verskeie ander spesies het goeie pryse behaal. Dragtige bontebokooie is vir R115 000 verkoop, njala-ooie het R30 000 stuk behaal en die hoogste bod vir ‘n lechweram was R160 000.
Vlaktewild het nie teleurgestel nie. ‘n Reuse gemsbokbul 42” is vir R375 000 verkoop terwyl gemsbokkoeie R11 000 behaal het.
Twee blouwildebeesbulle het R42 000 stuk behaal, kameelperde R35 000, sebras R7 000 en rooibokooie R5200 stuk.
Volgens Niel Swart, afslaer van Vleissentraal Bosveld wat die veiling aangebied het, is die goeie pryse wat op die veiling behaal was ‘n weerspieëling van die bedryf se dankbaarheid teenoor dr. Kriek vir sy jare se harde werk en sy passie vir die wildbedryf.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.