Wilde honde — Pestilensie of aanwins?

MELKRIVIER — Is daar plek vir predatore soos wilde honde op wildplase wat as besighede bedryf word en waar onder andere koedoes en rooibokke gejag word? Jag is wildboere se primêre inkomste.

Derek van der Merwe

Hoe kan predatore soos wilde honde, ’n bedreigde spesie wat besig is om vinnig uit te sterf, op wildplase geakkommodeer word sonder dat die wild gevang en opgevreet word?

Bogenoemde kwessies is verlede week tydens ’n inligtingsessie vir grondeienaars in die Melkrivieromgewing by Lindani Lodge gehou.

Davic Marneweck, bestuurder van die karnivoorbewaringsprogram (KBP) by die Endangered Wildlife Trust (EWT), het ’n voorlegging gedoen oor hoe (volgens statistieke) die enigste trop vrylopende wilde honde in Suid-Afrika, wat tans vry loop in die Melkrivieromgewing, gered kan word van uitwissing en hoe die bewaring van die wilde honde ook vir grondeienaars van nut kan wees en ʼn addisionele inkomste kan bied.

Volgens Marneweck is hierdie trop van 12 wilde honde by verskeie plase in die omgewing opgemerk en hulle besef dat die wildboere dit nie gaan duld nie omdat hulle inkomste “opgevreet” word. Die doel van die inligtingsessie was dus om ’n wen-wen-situasie vir beide grondeienaar asook die bewaring van die wilde hond te vind. Derek van der Merwe, Limpopo streekskoördineerder van EWT se KBP, het beklemtoon dat ekotoerisme moontlik die antwoord is om beide wildboer en wilde hond te akkommodeer. Hy het gesê dat baie toeriste (plaaslik sowel as buitelands) bereid is om te betaal om spesifiek wilde honde in hulle natuurlike habitat te sien. Wilde honde in hulle den tydens paartyd is ook ’n gesogte aantrekkingskrag vir fotograwe.

Volgens Marneweck sal dié spesifieke trop wilde honde halsbande kry wat dit sal moontlik maak om hulle bewegings noukeurig te monitor sodat daar uurliks verslag gedoen kan word oor hulle bewegings.

Hy het verder verduidelik dat boere finansieel sal kan baat by besoekers en toeriste en dat EWT onderneem om self die lodge en akkommodasie aktief te bemark.

Van die grondeienaars wat die geleentheid bygewoon het, was baie skepties oor die werkbaarheid van die idee – veral die naweekboere en hulle het dit baie duidelik gestel dat hulle grond privaat is en dat ʼn toeloop van toeriste nie vir hulle gaan werk nie – veral in die jagseisoen. Ander was meer inskiklik en bereidwillig om dit ʼn kans te gee.

Kobus Pienaar van LEDET het ʼn pleidooi gelewer dat, uit natuurbewaring se oogpunt, ʼn kameelperd, koedoe en wilde hond ewe waardevol is. Hy het beklemtoon dat bewaring elke grondeienaar se eie verantwoordelikheid is. Hy het ook genoem dat die verspreiding van leeumis kan verhoed dat wilde honde sekere areas betree.

“We are living in a biosphere and ultimately there will be leopards, wild dogs, etc. Please shoot AT them and don’t shoot THEM,” het Marneweck gepleit.

Skakel Derek van der Merwe by 083 447 9335 vir meer inligting of navrae.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.