Wilma stap terug …

Daar is kopstukke gesels en hegte vriendskappe gesmee

LEPHALALE — Wilma Malan, Namakwalander in murg en been, maar sedert 2013 ook Bosvelder, het van 12 – 24 September vanjaar die Namakwa Camino gaan stap.

Wilma is op 25 Oktober 1967 in Garies in Namakwaland gebore. Sy was op Garies in die Laerskool en het graad 9 tot 12 by Hoërskool Gymnasium in Oudtshoorn voltooi.

Die roete van die Namakwa Camino loop deur die deel van Namakwaland waar Wilma grootgeword het en dit het natuurlik daartoe bygedra dat sy dit graag wou stap.

“Dit was vir my baie bekend en ek het wonderlike herinneringe van die plekke waar ons as kinders was. Die teruggaan daarheen was vir my baie goed,” sê sy.

Die groep van 28 stappers het op 12 September om ongeveer 07:00 by Hondeklipbaai begin stap aan die 262 km wat hulle oor 10 dae afgelê het.

“Almal het die vorige dag al in Hondeklipbaai aangemeld. Ons het mekaar ontmoet en die organiseerders het vir ons ’n ‘meet and greet’ funksie gereël,” sê Wilma.

Sy het besluit om die staptog op haar eie aan te durf, maar die stappers kon mekaar so ’n paar weke voor die tyd bietjie leer ken via WhatsApp-boodskappe.

“Elke stapper moet sy/haar eie tent, matras en beddegoed saamneem. Die oornagplekke is meestal op plase in die omgewing. Die organiseerders slaan die kombuistent, toilette en storte op, maar ons moes self ons tente op- en afslaan,” verduidelik sy.

Wilma sê die lengtes van die roetes wissel. Die eerste drie dae word daar 30 km per dag gestap en die laaste dag net 21 km. Die gemiddelde afstand per dag was 26 km.

“Voorbereiding is baie belangrik. Jy moet baie stapfiks wees en seker maak dat jy op verskillende terreine oefen. Op sy eie klink 26 km per dag nie ver nie, totdat jy dit vir 10 dae agtereenvolgend moet kan doen.

“Die belangrikste van alles is dat jy seker maak jou skoene is goed ingeloop om sover moontlik blase te vermy. Ek het die laaste maand my rugsak gepak en daarmee gestap sodat my lyf kon aanpas om die vrag elke dag te dra”.

Wilma sê die moeilikse deel van die Camino was vir haar die kamp-gedeelte.

“Gelukkig raak jy gou gewoond daaraan en ek het baie geheg geraak aan my piepklein tentjie! Die uiterste terreinoppervlaktes en sterk wind wat ons ondervind het was ook ’n uitdaging.

“Die hoogtepunt van die Camino-ondervinding vir my was dat dit veel meer was as wat ek verwag het dit sou wees. Die gevoel van kameraderie in die groep, die besef dat jy tot meer in staat is as wat jy gedink het en om te sien hoe die stappers se ‘varnish’ afval en almal saam swaarkry, was beslis hoogtepunte,” sê sy.

Wilma sê voornemende stappers kan dit gerus oorweeg om dié roete te gaan stap.

“Die organisasie is uitstekend en daar word baie goed na jou omgesien. Die kos is wonderlik en daar is mediese dienste beskikbaar om die voetblase te dokter. Dis ’n ongelooflike mooi deel van ons land en nie plat soos baie mense dink nie. Ons het ook mooi blomme gesien in die Namakwaland Nasionale Park”.

En hoe het dit gevoel om op 22 September oor die eindstreep te stap?

“Dit was ’n emosionele oomblik om oor die eindstreep te stap onder luide toejuiging van medestappers wat goeie vriende geword het. Ek was sommer baie trots op myself en kon gelukkig die knop in my keel afsluk met yskoue vonkelwyn,” sluit sy af.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.