WRSA gee terug

nuusfoto-1
Natuurlewe-studente het elk ‘n sertifikaat ontvang. Voor van links is Tania Kaiser (SA Game Breeders), Phillip Swart, Marjon Geldenhuys Daniëlle Nel, Sonika Niemand, Karin Hefer (SA Game Breeders), Rina van Jaarsveld (kampusbestuurder van Lephalale TVET Kollege) Agter is Armand du Preez, Gerhard van Blerk, Altus Beck en Peet Koen (SA Game Breeders); Sebastian Schaepe (afwesig)

LEPHALALE — Die WRSA (Wildbedryf SA) Ellisras Bedryfskamer het 22 November ‘n byeenkoms by die Mogolklub gehou. Voorsitter Danie Hefer het tydens die geleentheid verslag gedoen oor die bedryfskamer se aktiwiteite van die afgelope twee jaar.
Dr Lucas Mampane, direkteur van veeartseny in Limpopo het gepraat oor die probleme wat in die distrik ondervind word met die beskikbaarheid van staatsveeartse om buffelwerk te doen. Hy het onderneem om dringend aandag daaraan te skenk.
Die bedryfskamer het ook amptenare van die Department van Omgewingsake en die Department van Veeartsenykunde bedank vir hulle getroue hulp en diens wat hulle gedurende 2016 gelewer het en elkeen het ‘n serfitikaat ontvang.
Die hoogtepunt van die geleentheid was toe SA Game Breeders/WRSA merietetoekennings oorhandig het aan ‘n groep Natuurlewe-studente van die TVET Kollege in Lephalale. ‘n Deel van hulle studies behels ook Wildplaasbestuur.
SA Game Breeders het gesê hulle wil graag van die welvaart wat hulle ondervind teruggee aan die bedryf en die gemeenskap en die beste manier waaraan hulle kon dink was om studente te help met hul studies. Agt studente het elk ‘n bedrag geld ontvang wat gekrediteer word teen hulle jaargeld by die TVET Kollege en hulle het ook elkeen ‘n sertifikaat ontvang.
Die oorhandiging is gedoen deur Tania Kaiser, Karin Hefer en Peet Koen van SA Game Breeders. Die totale projek is geborg deur SA Game Breeders onder die toesig van WRSA.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.