WRSA vir wildboer

Leoni Kruger
LEPHALALE — Adri Kitshoff, uitvoerende hoofbestuurder van Wildlife Ranching SA (WRSA) het die Lephalale wildbedryfskamer verlede Donderdag 3 Maart besoek. Sy was voorheen die uitvoerende hoof van die Professional Hunters Association SA (PHASA).
Voorsitter Danie Hefer het gesê die groep voel geëerd dat sy so vroeg na haar aanstelling reeds ‘n draai in Lephalale maak. Sy sou drie wildsboere later die middag op hulle plase besoek.
Kitshoff sê sy is reeds die afgelope 15 jaar deel van die wildbedryf en dat sy hoop haar ervaring wat sy opgedoen het verseker ‘n makliker verhouding tussen die jagters en wildboere.
WRSA is tans besig het herstrukturering en sy het almal wat die vergadering bygewoon het, aangemoedig om aansoek te doen om lidmaatskap by die WRSA. Sy het gesê dat hulle, as WRSA, besef dat as hulle nie ‘n goeie diens aan lede bied nie, hulle hul verantwoordelikheid nie sal nakom nie.
Volgens Adri lyk dit van buite af of die WRSA net daar is vir die groot boer, maar dit is nie die waarheid nie. Die WRSA is daar vir alle wildboere, daarom word alle wildboere aangemoedig om aan te sluit. “Elke lid moet die voordeel kry” sê sy.
“Ons moet ons eie standpunte kry oor kleurvariante en die amptelike standpunte word na die president geneem. Ons moet dus weet hoe die lede voel oor byvoorbeeld kleurvariante. Dié insette word saamgevoeg met dié van mense op die raad en vrywilligers. Die WRSA moet geag word as sosiaal verantwoordelik”.
Sy het verduidelik hoe belangrik dit vir buitelandse jagters is om presies die Afrika-ervaring te kry as dit wat hulle te wagte was. “Baie Amerikaners het ‘n Afrika-droom – hulle beplan dalk jare aan hulle Afrika-ervaring en wanneer hulle uiteindelik by die lodge aankom is daar byvoorbeeld ‘n tydskrif met foto’s van ‘n buffel met ‘n merker “tag” in sy oor. Of ‘n gaatjie waar die merker was. Dit laat hulle droom van ‘n egte jagervaring in skerwe spat sê sy.
Sy het weer beklemtoon dat die WRSA kongres wat vanaf 17 – 20 Maart by Sun City gehou word, die beste netwerkgeleentheid is wat daar is. Dawie Roodt, bekende ekonoom, gaan byvoorbeeld praat oor watter invloed die ekonomie op die wildbedryf gaan hê; die vuurwapenwet en hoe dit die bedryf gaan beïnvloed gaan bespreek word en iemand gaan wenke gee oor hoe die sosiale media ingespan kan word om jou bedryf te bemark. “Ons het die sosiale media baie nodig – of ons dit nou wil weet of nie”sê sy.
Sy sê sy het onlangs gehoor van ‘n voorstel wat by die Europese Unie ingehandig is dat die invoer van trofeë in Europa summier gestop moet word. “Ons moet bymekaar staan, dit is net vir hierdie jaar geldig dat daar nie luiperdkwotas is nie, dit word volgende jaar hersien” sê sy.
Sy het afgesluit deur vir almal wat die vergadering bygewoon het te sê dat diegene wat nog nie by die WRSA aangesluit het nie, ‘n verantwoordelikheid het om dit wel te doen.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.