Boeliery ʼn realiteit

Die lewe troetel nie noodwendig mense wat reeds broos en kwesbaar is nie. Inteendeel – mense wat sensitief en onweerbaar is, is juis sagte teikens.
Die Handleiding van die Afrikaanse Taal, 6de uitgawe, Pearson, omskryf ’n boelie as “iemand wat swakkeres/ondergeskiktes hardhandig hanteer of andersins intimideer”.
Boeliery het reeds in die Middeleeue voorgekom, maar Nero Claudius Caesar Augustus Germanicus, gebore in die jaar 37 n.C., was nie die eerste of laaste boelie nie, dit blyk dat boeliery steeds hoogty vier.
Die Gautengse Life Esidimeni-tragedie wat verlede jaar verskeie kere die nuus gehaal het kan ook as ʼn soort boeliery gesien word teen die broosste mense. Die regstreekse televisiebeelde van die getuies voor die kommissie van ondersoek ná die katastrofe lig ’n absurditeit in sisteme uit.
Boelies kan hul werk via die virtuele wêreld doen en die slagoffer kan geteister word per Facebook of WhatsApp, om enkele voorbeelde te noem. Jonk en oud kan geboelie word en dit vind in skole en in tehuise vir bejaardes plaas.
Met die heropening van die skole op Woensdag 17 Januarie is daar waarskynlik kinders (en ouers) wat opsien na die jaar omdat hulle (of hul kinders) by die skool geboelie word.
Volgens ʼn bedryfsielkundige in Lephalale, vind boeliery letterlik op alle vlakke van die samelewing plaas. “Ek kry op ʼn baie gereelde basis te doen met veral kinders wat in skole deur maats of selfs onderwysers geboelie word,” sê sy. Boeliery kom volgens haar ewe veel voor by meisies as by seuns.
Netwerk24 het op 24 Januarie 2013 in ʼn ondersoek bevind dat meer as 50% Suid-Afrikaanse kinders tussen graad 5 en 9 deurloop onder boeliery. Dit sluit fisiese, emosionele en verbale boeliery in. In 2015 het die Minister van Onderwys gesê: “SA kids are the most bullied children in the world”.
Dié bevindings is weer op 20 Januarie 2017 gepubliseer.
Volgens die bedryfsielkundige is swakker prestasie een van die tekens dat ʼn kind geboelie word – “kinders wat geboelie word presteer nie so goed nie.”
Sy sê daar is ʼn magdom maniere hoe kinders geboelie word – hulle word gespot, name genoem, geslaan, gestamp of hulle kos of snoepiegeld word gesteel.
Volgens haar is dit algemeen dat ʼn kind wat gesukkel het om deel te word van ʼn sekere groep sélf begin boelie nadat hy of sy deur die groep aanvaar is om te wys dat hy of sy “inpas”. Ander kinders word dan geboelie as sogenaamde “gemeenskaplike vyande”.
Sy sê boeliery het soms die uitwerking dat ʼn kind sal sê: “ek sal jou wys”. Die teendeel is ongelukkig ook waar – baie kinders trek terug en raak depressief.
“Die heel belangrikste ding wat kinders moet weet is dat hulle moet práát. Sê vir jou onderwyser en vir jou ouers. Moenie stilbly nie,” sê sy.
ʼn Ander netelige saak is kinders wat subtiel deur onderwysers geboelie word (juffrou of meneer “pik” op my).
Die boodskap aan onderwysers is dat hulle wel op die terrein moet wees wanneer hulle terreindiens het. “Luister na die kinders en KYK wat aangaan. ʼn ‘Storie’ het ʼn oorsprong – of dit nou is omdat die kind aandag soek, ongelukkig is in hom/haarself en of dit jaloesie is. Boelies vra nie uit watter huis jy kom of hoeveel geld jou ouers het nie,” sluit sy af.
Elmari Jones van Kids Academy in Lephalale sê daar is ‘n reuse-boeliekrisis in Lephalale en dit is noodsaaklik dat kinders vaardighede aanleer om hulleself teen boelies te beskerm.
Kids Academy bied anti-boelie- en lewensvaardigheidsprogramme aan wat kinders bemagtig teen intimidasie en boeliery.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.