Kleur jou wêreld — met ‘n splinternuwe PNA

Wessel Geldenhuys en Karel de Vries tydens die lintknipseremonie

LEPHALALE — PNA Lephalale het behoorlik ‘n fantastiese metamorfose ondergaan met die verskuiwing van die ou winkel na ‘n nuwe en baie groter perseel in die Lephalale Square. Dit is die spreekwoordelike “uit met die oue en in met die nuwe”.
Die rooi PNA-baniere het Woensdagoggend vanaf 9:00 gewapper tydens die opening. Die tradisionele lintknipseremonie is deur eienaars Wessel Geldenhuys en Karel de Vries waargeneem waarna kopers die nuwe kleurvolle winkel kon binnegaan. Talle geskenkpakke is uitgedeel en Hannes Lambrecht was die eerste en Anthony Mzyk die tweede klant in die nuwe winkel. Dirkie Strydom was die eerste klant wat meer as R500 se produkte gekoop het en is ook beloon met ‘n stewige geskenkpak.
Bianca Malan van PNA-hoofkantoor het in haar toespraak gesê dat PNA Lephalale, gesien in die lig waar hulle tans is en waar hulle vandaan kom, boekdele spreek van PNA se werksetiek, toegewydheid, positiwiteit en deursettingsvermoë. Sy het hulle namens die PNA-hoofkantoor gelukgewens met dit wat hulle in Lephalale bereik het. Verskaffers van verskeie produkte het ook die geleentheid bygewoon.
Wessel en Karel sê die uitbreiding na ‘n groter winkel het noodsaaklik geword en hulle het dit uit ‘n geloofsoogpunt bewerkstelling met die lojale ondersteuning van die gemeenskap waarvoor hulle hul opregte dank uitspreek. Dit boonop met die bonus van ‘n beter ligging. Hulle het nou veral die skryfbehoefte-afdeling asook die kunsafdeling aansienlik uitgebrei. Kunsliefhebbers kan hulle wêreld nou lekker inkleur met ‘n groot en wye verskeidenheid benodighede vir verskeie kunsvlytprojekte.
Hulle nooi die gemeenskap om die splinternuwe, kleurryke PNA te besoek vir vriendelike diens en ‘n heerlike koopervaring. Klante sal vir seker verras wees.
Verder voorsien PNA nie net skryfbehoeftes aan die publiek nie, maar ook grootmaat aan besighede en skole met die gerief van aflewering. Stel gerus PNA in die Lephalale Square op die proef vir kompeterende pryse en gehalte produkte in bekende handelsname.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.