Knap gedaan Zelna

Zelna Munnik met haar Toyota Master Service Advisor-sertifikaat
Zelna Munnik met haar Toyota Master Service Advisor-sertifikaat

LEPHALALE – Zelna Munnik het ongeveer twee jaar gelede by Tamboti Toyota se diensafdeling as adviseur aangesluit. Dit behels dat sy kliënte adviseer betreffende dienste en herstelwerk aan Toyota-voertuie. Sy het in dié tyd gereeld kursusse bygewoon by Toyota SA in Johannesburg en het ook aanlynkursusse gedoen. Zelna het haarself onderskei as ‘n bekwame adviseur en ‘student’ en het ‘n gemiddeld van 89% in al haar kursusse behaal, sonder om daarvan te herhaal.
Toyota SA het, nadat Zelna al haar kursusse voltooi het, haar uitgenooi om hul formele sertifikaatgeleentheid by Emperor’s Palace by te woon waar hulle die Toyota Master Service Advisor-sertifikaat aan haar oorhandig het. Dit is die hoogste toekenning in haar veld. Maar dit het nie vanself gebeur nie, veral omdat sy by die Tamboti Toyota se dienste-afdeling begin werk het met geen motor- en onderdele-ondervinding nie.
Zelna was egter toegewyd en het met harde werk, wat baie tegniese kennis behels, daarin geslaag om dié gesogte sertifikaat te bekom. Sy sê dat dit vir haar ‘n baie groot eer is en dat sy nou baie meer toegerus voel om Tamboti Toyota-kliënte met die nodige kundigheid en advies te bedien.
Haar kollegas is ook baie trots op haar, want sy is die eerste persoon by dié besigheid wat hierdie toekenning ontvang.
Intussen behaal Tamboti Toyota ook ‘n hele 92% vir “Customer Experience” (CE) wat daarop dui dat kliënte baie tevrede is met hul diens.
Francois Pretorius, werkswinkelbestuurder, sê die terugvoer oor Tamboti Toyota se CE is “te danke aan knap werkswinkelpersoneel”. Hierdie spesiale groep mense is dus absoluut gefokus op kliëntediens wat duidelik weerspieël word in die hoë persentasie wat behaal is.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.