Koekeloerder – 8 July 2016

Beste redakteur en kollega
Ek sit op my stoel en lees berigte van die afgelope dae se voertuigongelukke.
Ek onthou dat ek ‘n week gelede in Die aap in jou koffie: Afrikaanse eponieme van A to Z deur Anton F Prinsloo, Protea Boekhuis, gelees het dat ‘n onverskillige bestuurder ‘n jehu (gespel met kleinletter) genoem word. Hierdie eponiem is ontneem uit II Konings 9:20: “Die wag het laat weet: “Die boodskapper het tot by hulle gekom, maar hy kom nie terug nie. Die een wat die wa dryf, moet Jehu seun van Nimsi wees, want hy dryf soos ‘n mal mens!”
Byna daagliks sien ek en kollega Ria padinsidente waar haastige bestuurders gevaarlike maneuvers uithaal. Byvoorbeeld bestuurders wat in die intersek ander voertuie aan die linkerkant met spoed en vinnige swenk bewegings verbyswiep. By die verkeerslig by Nelson Mandelarylaan en Chris Hanilaan ry bestuurders gereeld oor ‘n rooi verkeerslig terwyl die groen draaipyltjies ‘n ander groep in die verkeer ryreg gee.
Waar kom al die jehubestuurders wat soos mal mense in Lephalale ry vandaan?
Operasies in die ruimte fassineer my al verstaan ek niks daarvan nie. Met tuig Juno wat 540 miljoen myl in ons sonnestelsel teen 1 212 myl per uur op die regte oomblik in die regte wentelbaan invaar na ‘n reis van vyf jaar, laat my stom.
Mevrou, hoeveel ure se beplanning dink jy het die NASA-span ingesit om Juno op die sekond en duisendste van ‘n millimeter so ver in die ruimte vanaf die aarde te navigeer as ‘n jehu dit nie regkry om in Lephalale volgens eenvoudige padreëls te bestuur nie?
— Elsa

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.