Koekeloerder — 9 Sep 2016

Beste redakteur en kollega,
Ek lees by af.wikipedia, die vrye ensiklopedie (Afrikaans) dat die langste woord wat in die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) voorkom is Bosveldstollingskompleks-navorsingseenheid (41 letters). Hoe lekker kry ek omdat Bosveld deel van dié woord uitmaak!
Lesers kan by die Vuisboek van Afrikaanse Wikipedia gaan lees hoeveel artikels en oor watter onderwerpe het die span wat by die uitbreiding van Afrikaanse Wikipedia betrokke is al geplaas. Op 6 Mei het Hugo Barnard geskryf dat daar reeds meer as 40 000 Afrikaanse artikels geplaas is en dat daar ongeveer 400 per maand bygevoeg word.
Ons kan reeds in Afrikaans lees van Middeleeuse kookkuns tot die duur spesery saffraan by af.wikipedia.
En so tussen die soekenjins wat ek gebruik om na te lees oor die goed en mallighede in die wêreld bly ek egter ‘n groot voorstander van ‘n gedrukte boek in die hand. Niks ruik vir my so lekker soos ‘n spinternuwe boek nie.
Ek het in my AWS (Pharos, 10de uitgawe) gaan kyk en Bosveldstollingskompleks-navorsingseenheid is wraggies daarin.
Toe ek die HAT 6 nadersleep om op te kyk wat beteken die woord kom ek agter dit verskyn nie daarin nie.
Mevrou, wat dink jy doen die Bosveldstollingskompleks-navorsingseenheid?
— Elsa

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.