Marilet, waardige wenner!

LEPHALALE — Die Facebook-kompetisie van Mogol Pos in samewerking met SrixZone Health & Fitness het ʼn waardige wenner opgelewer.

Kenneth Modimola en Quinten Greyling van SrixZone Health & Fitness oorhandig aan Marilet haar ses maande gratis lidmaatskapkontrak

Die versoek was dat deelnemers hul vriende moes “tag” en sê waarom hulle ʼn sesmaande gratis lidmaatskap van SrixZone Health & Fitness behoort te wen.

Marilet Swanepoel (33) het baie mense ingeklik (“getag”) en is as wenner aangewys. Mogol Pos het die nuus persoonlik aan haar oorgedra by haar kantoor by PSG Frik Malan en haar blydskap was sigbaar met trane wat vrylik gevloei het na die goeie nuus.

Marilet het twee jaar gelede die skaal op 120 kg getrek en het intussen 30 kg verloor. Dit het egter nie maklik gebeur nie. Sy is insulienweerstandig en het op doktersaanbeveling besluit om leefstylaanpassings te maak. Sy en haar man, Connie, het begin om ʼn aktiewe leefstyl te volg. Harde werk, baie wilskrag, oefening, parkruns oral waar hulle gaan, hindernisbaanwedlope en vele meer was hul voorland. Toe Marilet die geleentheid vir gratis lidmaatskap by SrixZone Health en Fitness raaklees het dit so aanloklik gelyk dat sy dadelik op die Mogol Pos Advertiser Facebook-blad gaan deelneem het, want “dit het perfek ingepas by my doelwitte om onder andere my ideale gewig te bereik”.

Marilet het ʼn boodskap vir almal wat gesond wil lewe en gewig wil verloor: “Daar is nie ʼn kortpad nie, maar ek hoop dat my storie ander mense sal inspireer om vas te byt en ʼn gesonde leefstyl te handhaaf”. Connie het ook nou by SrixZone Health & Fitness aangesluit om Marilet te ondersteun.

Dié twee oefen intussen kliphard om aan die 2019 Sun City Ultra-driekampkompetisie (swem, hardloop en fietsry) deel te neem. Hulle het ook Sondag 6 Mei aan die Wings for Life-wedloop in Pretoria deelgeneem, ʼn byeenkoms wat jaarliks wêreldwyd op dieselfde dag op verskeie plekke plaasvind. Die Wings for Life-wedloop is ter ondersteuning van navorsing vir Spinabifida. Gaan lees gerus meer daaroor by https://www.wingsforlifeworldrun.com/.

Kenneth Modimola en Quinten Greyling van SrixZone Health & Fitness het aangebied om haar in die volgende ses maande behoorlik onder hande te neem en te help met fiksheid en verdere gewigsverlies.

(Lesers kan gerus die koerant dophou vir die volgende Mogol Post Advertiser Facebook-kompetisie – Red)

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.