ʼn Lekkergeesfees en mensweesfees

LEPHALALE — ʼn Nuwe fees, ʼn lekker tweedag-mensweesfees skop op 31 Mei 2019 af. Dié lekkergeesfees se naam is die Veldskoenfees.

ʼn Aksiebelaaide fees wat nie net die bekende Suid-Afrikaanse produk “vellies” insluit nie, maar ALLE soorte skoene waarmee mens in die veld kan loop – vandaar die naam VELDskoenfees.

In ʼn depressiewe tydperk in hierdie mooi bosveldse dorp se geskiedenis is die nuus van ʼn nuwe Fees inderdaad baie goeie nuus.  

Die toerismeraad was gewees. Sakekamers het gedisintegreer. Dis Medupi-flaters en slaggatkraters en … en … en …

Die Veldskoenfees word Vrydag 31 Mei en Saterdag 1 Junie by Molalatau Lodge en die aangrensende Eckard Boerdery, wat slegs 8 km buite die dorp is, aangebied.

Met Jan en Madeline Eckard en Theo Pistorius aan die roer van sake gaan die twee dae aksiebelaai wees, kundiges gaan nuttige inligting deel en daar gaan onder andere ook demonstrasies, kompetisies, stalletjies, ʼn biertuin en boeredans wees.

Hou Mogol Pos dop vir verdere inligting en trap maar solank daardie veldskoene uit om voetblase tydens die Veldskoenfees te voorkom.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.