Vroeë begin deurslaggewend om jou kind se opvoeding te bekostig

Die #FooieMoetVal-veldtog einde verlede jaar het die kollig laat val op die hoë onderrigkoste in Suid-Afrika. Die bekostigbaarheid van jou kinders se opvoeding is ’n realiteit wat jy nie kan vermy nie – ongeag of jou planne onderrig in privaat of staatskole insluit. Hoe kan jy dus seker maak dat jy jou kinders se onderrigkoste op laerskool, hoërskool en daarna kan bekostig?
Dorothy Davies, finansiële adviseur van Sanlam sê dit maak nie saak of jy besluit om alles wat jy kan bekostig vir laer- en hoërskoolonderrig opsy te sit, of eerder vir die toekoms wil spaar nie – jy gaan ongetwyfeld êrens ’n aansienlike bedrag moet betaal, as gevolg van die hoë onderrigkoste in Suid-Afrika.
Onderrigkoste styg gewoonlik teen ’n hoër koers as algemene inflasie (VPI). Hierdie koers was nog altyd tussen 2% en 4% hoër as algemene inflasie, en 3% bo VPI word gewoonlik gebruik wanneer vir onderrigkoste voorsiening gemaak word. Wat tersiêre onderrig betref, kos dit tans vanaf net onder R30 000 tot R62 500 per jaar om vir ’n BCom-graad by een van Suid-Afrika se top-universiteite te studeer. ’n Kind wat in 2016 Graad 1 is en in 2028 universiteit toe gaan, kan minstens R84 400 per jaar betaal, as ’n verhoging van 9% per jaar veronderstel word. Dit sluit losiesgelde, maaltye, boeke en ander administrasiekoste uit.
Al kan ons dankbaar wees dat tersiêre onderrigkoste nie in 2016 verhoog sal word nie, moet ons nog steeds vir ons kinders beplan en al die addisionele koste in ag neem. Hierdie uitdaging is nie net eie aan Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd ’n kwessie waarmee gesinne te kampe het.
’n Onlangse studie deur Sanlam toon dat sommige ouers sover gaan om twee werkbetrekkings te aanvaar sodat hulle hul kinders na ’n privaat skool kan stuur, omdat hulle dit as die beste nalatenskap beskou wat hulle aan hul kinders kan gee.
Sy sê in die lig hiervan is die vraag nie of ouers vir hul kinders se opvoeding moet spaar nie, maar wanneer dit die beste tyd is om te begin spaar. En die antwoord is: Sodra jy dit kan bekostig.
Dit is moeilik om vir later jare te spaar wanneer jou kind reeds in die skool is. As jy dit kan bekostig, het dit dus sin om vanaf die dag van jou kind se geboorte “skoolgelde” deel van jou begroting te maak. Dan sal jy nie net uit die staanspoor aan hierdie uitgawe gewoond raak nie, maar ook genoeg tyd hê om die krag van saamgestelde rente vir jou te laat werk. Dit kan help om die druk later te verlig.
Aangesien opvoedingsinflasie die meeste salarisverhogings verbysteek, sal skoolgelde waarskynlik ’n al groter hap uit jou salaris neem soos jou kind groter word.
Dorothy glo as jy in ’n belastingvrye spaarrekening belê, kan die uitwerking van saamgestelde rente egter help om die gaping tussen jou salarisverhoging en opvoedingsinflasie te vernou. As ’n ouer kan jy tot R30 000 per jaar in so ’n rekening belê sonder om belasting op jou beleggingsopbrengs te betaal.
Belastingvrye spaarrekeninge is ideaal vir langtermyndoelwitte soos ’n kind se opvoeding, omdat jou geld in hierdie belegging vinniger sal groei as in ’n gewone spaarrekening. Verder beteken die belastingverligting dat die effek van saamgestelde rente (d.i. om beleggingsopbrengste op beleggingsopbrengste te verdien) versterk word.
Kontak Dorothy Davies by 014 763 2260 of 082 783 3298 vir kundige finansiële advies.
Sanlam is ‘n Gelisensieerde Verskaffer van Finansiële Dienste.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.