Welkom by Matopi Ford

SG en Esra, die nuwe gesigte by Matopi Ford

LEPHALALE — Matopi Ford het pas twee nuwe aanstellings gemaak en volgens Frik Versfeld, handelaarshoof, is dit belangrik om voortdurend voort te bou op kundigheid en goeie kliëntediens.
Esra de Kock het haar gewig op 3 April by Matopi Ford as verkoopskonsultant ingegooi en sê dat sy geseënd was om so vinnig ‘n pos te bekom nadat sy drie weke gelede in Lephalale geland het en wat haar boonop soos ‘n handskoen pas. Sy was immers vir 17 jaar lank in General Motors se diens en die afgelope twee jaar by Ford in Silverton, Pretoria. Die motorbedryf is dus vir haar ‘n bekende omgewing en kundigheid en ervaring is vir haar tweede natuur. Die uitdaging vir haar is om ook haar merk in die bosveld te maak en sy sien uit daarna om nuwe kliënte te werf en vriende te maak. “Ek was vir 21 jaar in die Weskus, maar die bosveld het vir my ‘n groot bekoring en ek is hier om diep spore in Lephalale te trap”. En die lekkerste van ‘n nuwe voertuig is die reuk en natuurlik die blydskap wat sy saam met ‘n kliënt ervaar as ‘n nuwe voertuig afgelewer word. Sy glo in die Ford-produkte en nooi die gemeenskap om haar te gaan ontmoet en besigheid te gesels. Kontak haar gerus by 073 263 9247 vir enige navrae.
SG Marais is ‘n boorling van Lephalale wat sy skooljare by Laerskool Bosveld Primary en Hoërskool Ellisras deurgebring het. Hy het hom op 10 April as Assistent: Finansiering en Versekering en as verkoopskonsultant by Matopi Ford aangesluit en was reeds in die verlede as verkoopskonsultant in die motorbedryf betrokke. SG sê die bosveld is ‘n lekker plek en hy geniet dit om in Lephalale te werk. Dié jongman beskou hierdie geleentheid as ‘n opwindende uitdaging en ‘n nuwe fase wat hy in sy lewe betree en strewe daarna om ‘n goeie diens aan die gemeenskap te lewer. “Dit is ‘n goeie geleentheid wat oor my pad gekom het en ek is hier om ‘n loopbaan te bou en om my kennis al hoe meer uit te brei tot voordeel van die besigheid en die gemeenskap”. Kontak SG gerus by 083 651 8965.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.