Atletieksterre gaan toer

LEPHALALE — Jan du Plessis, Dries du Preez (graad 9) en Christelle van der Merwe (graad 8) van Hoërskool Ellisras is gekies om Split Seconds and Vision Sports South Africa tydens ʼn internasionale toer na Europa te verteenwoordig vanaf 28 Junie 2018.

V.l.n.r.: Skoolhoof Adriaan Joubert, Christelle van der Merwe, Dries du Preez en Jan du Plessis

Jan is gekies vir die 300 m-hekkies, Christelle vir die 100 m en 200 m en Dries vir spiesgooi, gewigstoot en diskus.

Vision Sports SA het dié atlete oor drie byeenkomste dopgehou, hulle potensiaal gesien en hulle vir die toer gekies.

Volgens Vision Sports is die doel van dié inisiatief om die atlete op die hoogste vlak internasionaal te ontwikkel in samewerking met van die beste afrigters in Suid-Afrika. Slegs enkele atlete kry hierdie unieke geleentheid.

Die span sal gedurende hulle tyd in Europa aan drie atletiekbyeenkomste deelneem en twee Diamantliga atletiekbyeenkomste in Parys en Lausanne besoek.

Die groep sal ook besienswaardighede in Europa besoek.

Die span vertrek op 28 Junie vanaf OR Tambo-lughawe in Johannesburg na Parys en hulle arriveer weer in Suid-Afrika op 9 Julie.

Die koste per atleet is R37 990 en die volle bedrag moet voor 10 Mei betaal wees.

Enigiemand wat bereid is om ʼn bydrae te maak om hierdie kinders se droom te bewaarheid kan hulle ouers skakel by: Suné du Preez – 072 880 7186, Kobus van der Merwe – 084 515 7162 en Susan du Plessis – 072 534 0676.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.