Balle vir Bravo!

Die wenners met hul pryse. By hulle is Johan Young en Ilse Marie Bouwer.
Die wenners met hul pryse. By hulle is Johan Young en Ilse Marie Bouwer.

Ria Wells
LEPHALALE — Bravo Jeug, ‘n organisasie wat reeds jare deel van Lephalale vorm, het Saterdag ‘n geslaagde gholfdag aangebied wat oor 18 putjies beslis is. 85 spelers het deelgeneem.
Johan Young, voorsitter van Bravo Jeug, het gesê dat die bekende liedjie met die woorde: “die kindergesiggies is die hemel se liggies”, hom onwillekeurig laat dink het aan die groot aanslag wat daar tans op “ons kinders se Lig is”. Bravo Jeug het dit hul ten doel om glimlagte en ‘n vonkel in die oog terug te sit op die kinders se gesigte. Hulle wil verseker dat kinders se geestelike welstand heel en gesond is deur middel van professionele terapeutiese, maatskaplike en sielkundige dienste. Dit is vir Bravo Jeug belangrik om die jeug te ontwikkel en selfs om gesonde kinders sterker te maak en daarom gaan hulle ‘n Leierskap Akademie by hoërskole in Lephalale tot stand bring.
Johan het ook gesê dat dit vir hom baie bemoedigend is om die blymoedigheid, vrygewigheid en oop harte van die gemeenskap te ervaar en dat Bravo Jeug met vrymoedigheid by hulle kan aanklop, “so kan elkeen ‘n verskil in kinders se lewens maak”, sê hy. Hy het die Bravo-span bedank vir die harde werk agter die skerms, asook die professionele span sowel as die vrywilligers en veral vir Ilse Marie Bouwer wat die gholfdag se reëlings getref het en so ‘n groot sukses daarvan gemaak het. ‘n Lang lys van bedankings vir borgskappe van sake- sowel as privaatpersone is voorgelees.
At Vermaak het ‘n veiling gehou. Die TagHeuer-horlosie ter waarde van R35 000 het natuurlik die meeste aandag getrek en ook die meeste geld vir Bravo ingebring. Daar is ongeveer R50 000 met die veiling ingesamel.
Die dag se spel is in twee bal, beter bal beslis. Die wenners was as volg: Naaste aan die penne was Peet van Rooyen op putjie 8 en Johnny Orsmond op 11. Gerhardt Theron het op putjie 13 die langste dryf vir die dag gemoker. In die eerste plek was Henry van Meersbergen en Werner Erasmus met 46 punte. Cobus Pienaar en Philip du Plessis eindig in die tweede plek met 44 punte en Q Cruze en Gerhardt Theron behaal die derde posisie met 43 punte.

Gaan kyk gerus op ons Facebook-bladsy vir nóg foto’s.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.