Biella is ‘n Bielie

VAALWATER — Biella Coetzee, ‘n leerder van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong (Naboomspruit) en deel van die o.15-rugbyspan, is Saterdag ernstig beseer tydens ‘n rugbywedstryd in Witbank. Hy woon in Vaalwater.
Biella se pa, Kan Coetzee, was saam toe die span teen ʼn skool in Witbank gespeel het.
“’n Speler het vir Biella getakel en het toe bo-op hom geval. Daarna kon hy glo nie opstaan nie en sy pa het oor die veld gehardloop en hom gaan optel en terug pawiljoen toe gedra. Hy is daarna verder deur sy spanmaats na sy pa se voertuig gedra waarna hy na Unitas Hospitaal in Centurion geneem is,” sê Jossie, Biella se ma. Na ondersoeke is vasgestel dat sy milt baie ernstig beseer is. Hy is Maandag 7 Maart vanuit die hoësorgeenheid na ‘n gewone saal geskuif, maar Dinsdagmiddag 8 Maart is hy terug teater toe nadat bloeding in sy buik ‘n infeksie veroorsaak het.
Biella is Donderdag 10 Maart uit die hospitaal ontslaan en hy sterk tans tuis aan.
“Biella het van kleins af in die Vaalwatergemeenskap se harte gekruip en daar is so baie mense, sy maatjies, ou en nuwe skoolvriende, huisvriende, kliënte en ander inwoners van Vaalwater wat boodskappe stuur of bel. Ons familie waardeer dit verskriklik baie,” sê Marietjie Keyter, Biella se tannie.
Biella se ouers, Jossie en Kan, werk albei by Mpatamacha in Vaalwater. Jossie is een van die mede-eienaars.
“Biella mag nooit weer aan enige kontaksport deelneem nie en tans is enige sportiewe aktiwiteite vir hom opgeskort. Ons het verskriklik groot geskrik maar is baie dankbaar dat hy nou weer beter is,” sê Jossie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.