Blink ster op gholfhorison

Gerhard tydens die 2017 – klubkampioenskappe

Ria Wells
LEPHALALE — Gerhard Pepler is ‘n skrale 17 jaar oud, maar het homself deur en deur bewys as ‘n gholfspeler om van kennis te neem.
Volgens sy ouers, Gert en Claudia Pepler, albei met ‘n passie vir dié sport, het hy reeds op eenjarige ouderdom sy eerste hou met ‘n gholfstok geslaan.
Reeds op die ouderdom van 11 jaar oud wen Gerhard die gewilde Maroelabeker wat jaarliks saam met die Bosveldfees aangebied word. Op 13- en 14-jarige ouderdom wen hy agtereenvolgens die Mogolklub se geslote klubkampioenskap. Op 15- en 16-jarige ouderdom wen Gerhard die Limpopo Juniorkampioenskappe vir twee jaar in ‘n ry en op 16 jaar kraai hy koning in vier Ope-kampioenskappe te Mogol, Mookgophong, Thabazimbi en Polokwane.
Die afgelope naweek wen Gerhard vir die derde keer Mogolklub se geslote klubkampioenskap. Volgens die beskeie Gerhard ondersteun sy ouers hom geweldig baie en tree Johan Nel, self ‘n kranige gholfspeler by Mogolklub wat al aan verskeie provinsiale kampioenskappe deelgeneem het, as mentor vir hom op. Bekende gholfspelers vir wie hy baie agting het is Tiger Woods, Rory Mclroy en Ricky Fowler. Hy sê hy volg hulle spel gereeld op die TV. Trouens dit is al wat hy kyk op TV. Gholf.
Sy mikpunt is om professioneel gholf te begin speel en hy oefen baie hard daaraan, maar hy sal moet wag totdat hy 18 jaar oud is. “Mogol gholfbaan is my tweede huis en as dit moontlik is oefen ek so vyf dae in ‘n week”. Hy sê die lekkerste gholfbaan waar hy al gespeel het is op Kingswood in George maar Mogolklub se baan bly by verre die mooiste winterbaan.
Gerhard, die blink ster op die gholfhorison, bedank almal by die gholfklub wat hom die afgelope jare bystaan en ondersteun. Hy waardeer elke gelukwensing en elke stukkie raad.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.