Boogskuts rol in goud

Leoni Kruger
LEPHALALE — Hennie en Werdie van Staden van Mogol Nyala Boogklub het die afgelope naweek weer gewys dat hulle goud werd is. Dié pa en seun is onderskeidelik as naasbeste – en beste skut aangewys by die Limpopo-kampioenskappe wat op 27 en 28 Augustus te Merensky, Tzaneen gehou is. Byna 100 skuts van sover as Gauteng, Noord-Wes, Mpumalanga en natuurlik Limpopo het deelgeneem.
Werdie het op dag een in die Adults Male Freestyle Unlimited (AMFU) afdeling afstandskat tot 60 jaart ‘n uitstekende telling van 510 uit 560 geskiet. Op dag twee skiet hy 411 uit 440, ook afstandskat 60 jaart. Hy word beide dae aangewys as die beste skut van die dag, hy ontvang goue medaljes en albei tellings is nasionaal kwalifiserend.
Hennie neem deel in die Adults Male Bow Hunter Unlimited (AMBU) afstandskat 60 jaart. Op dag een skiet hy 492 uit 560 en op dag twee 396 uit 440. Hy behaal goud vir albei dae en albei tellings is nasionaal kwalifiserend.
Hennie maak spesiaal melding van die uistekende baan in ‘n “woud” en hy bedank Dawie Theron, President van Bow Hunter Limpopo daarvoor.
Die volgende kampioenskappe is die Adults Bow Hunter Ope (ABO) se derde en laaste been van die jaar op Saterdag 10 September in Rosslyn Pretoria. Werdie neem deel in die Male Bow Hunter Ope (MBO) en Hennie in die Male Senior Release (MSR).
Skuts wat al drie bene wen word gekroon as “Tripple Crown”-wenners en Hennie en Werdie het albei reeds die eerste twee bene gewen.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.