Dames gholfjolyt

Ria Wells
LEPHALALE — Saterdagjolyt was aan die orde van die dag toe 109 damesgholfspelers Mogol se gholfbaan aangedurf het vir die jaarlikse Tamboti Toyota damesgholfdag met ‘n Hollywood-tema. En dit is nie te sê dat almal gholfspelers van formaat is nie!
Nadat die gholfstokke neergesit is, het die dames by die klubhuis bymekaargekom en soos altyd het hulle onbevrees gekuier en gedans op die maat van Hennie Pepler se musiek. Jaco van Wyk het die wenners met spitsvondighede aangekondig en deurentyd sy sangtalent ten toon gestel. Van die mans was so jaloers op dié jolyt dat hulle hulself soos dames vermom het om net tog ‘n bietjie van die lekker te deel op die dansbaan!
Die wenners was as volg: Gholfer algehele wenner – Chanrie Clarke, Gholfer algehele naaswenner – Cindy Muller, Nie-gholfer algehele wenner – Patricia Janse van Vuuren, Nie-gholfer algehele naaswenner – Elmarie Marais, derde plek – Mumsi Boshimane.
Die beste spangees was die Cyote Lovely’s en die besgekledes was niemand anders as die prettige Smurfies nie. Die beste uitdans is gewen deur Nadia Versfeld en die mees ondersteunende span was die Bak-en-Brou-span. En eina! Die oudste deelnemende dame was niemand anders as die mooie Charlene van Eeden nie.
Jan Beyer het die dames en almal vir borgskappe bedank wat weer eens gesorg het vir ‘n fantastiese damesgholfdag. En dan natuurlik Tamboti Toyota aan wie die groot eer gegee moet word. Dit is verseker een van die hoogtepunte op die dameskalender elke jaar.
Gaan kyk gerus op Mogol Pos se Facebookblad vir hope foto’s van die gholfdag.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.