DBV juig oor gholfdag-sukses

Martin, Engela en Jan Beyer, gholfbestuurder

Leoni Kruger
LEPHALALE — Die Lephalale dierebeskermingsvereniging (DBV) se jaarlikse gholfdag is Saterdag 22 April by Mogol se bane gehou en die organiseerders juig oor die groot sukses van die geleentheid.
Erika Tempel, diereliefhebber en een van die organiseerders, sê hulle was verbaas oor die groot opkoms ten spyte van al die langnaweke en skoolvakansie. “Dit was ‘n reuse sukses” sê sy.
Die spelers het afgeslaan met ‘n “goodie bag” vol sjokolade en ander snuisterye asook ‘n DBV-gholfhemp. KANSA Lephalale was soos gewoonlik ook op hul pos en hulle het hul eie tafel beman. Yvette Malan van Yvette Malan Properties se rib-burgers het gesorg vir baie tevrede spelers by die halfweghuis.
Die dag is afgesluit met ‘n aandete, voorberei deur Lakama, gevolg deur ‘n liefdadigheidsveiling. Die veiling was aangebied deur Taso Christofouro. Brian Mitchell was ‘n eregas en hy het van sy persoonlike memorabilia geskenk vir die veiling. Ses prinse van die Al Saud koninklike familie het die veiling bygewoon en die veiling goed ondersteun.
Erika sê hulle kan nie genoeg dankie sê vir die ondersteuning wat hulle vanaf die spelers sowel as die gemeenskap gekry het nie. “Sonder die gemeenskap kan die DBV nie funksioneer nie en is ons ongelooflik dankbaar dat hulle hul harte en beursies oopgemaak het” sê sy.
Die fondse wat tydens die geleentheid ingesamel is, help die DBV in Lephalale om hul deure oop te hou asook om kos en komberse aan te koop, sterilisasies te kan bekostig, salarisse te kan betaal asook om die water en ligte en brandstof te betaal.
Trofeë, spesiaal ingevoer en handgekerf, asook ‘n wisseltrofee is ook bekendgestel.
“Dankie aan al ons donateurs en spelers – Lephalale het ‘n ongelooflike gemeenskap. Ons sien met groot verwagting uit na 2018 se gholfdag” het Erika afgesluit.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.