Dis weer tyd vir duiwedinge!

LEPHALALE — Só word daar begin met die amptelike 2019-wedvlugseisoen. Ook nét betyds, aangesien die dorp se duiweboere nie langer sou kon uithou nie. Soveel opgewondenheid is lanklaas ervaar. Selfs van die hardebaarde het so elke nou en dan skelm geglimlag. Raar maar waar! Oukei, party het nie baard nie.

Die duiwe was Saterdag 1 Junie onderskeidelik om 08:00 en 08:30 in Magaliesburg in mooi weer losgelaat en hulle het die sowat 260 km-wedvlug (soos die kraai vlieg aldus die gesegde) gevlieg in net duskant drie ure en 58 minute. Die eerste duif terug in die Ellisras Duiweklub het om 11:53,30 oor die antenna van die duiweklok in die duiwehok geloop. Die blouband-witpen-kleurige wyfie, eiendom van Koos Myburgh, het die sowat 260 kilometer afgevlieg teen ’n gemiddelde spoed van 1112,9636 meter per minuut (66,77 km/h). Hierdie duif het met 13 minute en 57 sekondes onder die mededinging uitgevlieg. Dit wil gedoen wees. Baie geluk Koos.

Die eerste duif terug in die ope-wedvlug in die klub is die eiendom van Johan Lee en was ingeklok om 12:12,57. Die gemiddelde spoed van hierdie duif was 1150,2848 meter per minuut (69,01 km/h). ’n Paar duiweboere het genoem dat, veral hulle jong duiwe, maar so stuk-stuk by die huis gearriveer het en dit wil voorkom of die duiwe so effe gesukkel het tydens die wedvlugte.

Die uitslae van die Magaliesburg Jaaroud-wedvlug is soos volg: Koos Myburgh 1, 2, 9; Richie Pieterse 3, 4, 5, 6, 7, 8 en Johan Lee 10.

Magaliesburg Ope-wedvlug: Johan Lee 1; Richie Pieterse 2, 3, 4, 6, 7, 9; Koos Myburgh 5, 8 en 10.

Koos het gewys dat hy vanjaar moeilik geklop gaan word en hy maak die pap lekker dik aan sommer van die woord “go” af. Baie geluk aan almal wat goed gedoen het en sterkte aan die manne wat gesukkel het.

Tot volgende week dan, groete van huis tot huis en mag die beste duif wen. O ja, en moenie vergeet om die duiwe te “purge” nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.