Duiwedinge

Johan Lee
LEPHALALE — “The time has come…” weerklink die liedjie oor Jakaranda en net daar besluit ek om hierdie berig só te begin. Die tyd het aangebreek vir die eerste amptelike wedvlugte van die 2017-duiwewedvlugseisoen en dit vanaf Parys.
Dit is ook net betyds, aangesien die dorp se duiweboere nie ‘n week langer sou kon uithou nie. Van die manne het van opgewondenheid begin giggel soos skoolmeisietjies tydens die Inmandjie-aand. Van die hardebaarde het selfs so elke nou en dan skelpies geglimlag. Raar maar waar!
Die duiwe was Saterdag 3 Junie onderskeidelik om 08:30 en 09:00 in mooi weer losgelaat om die sowat 355 kilometer (soos die kraai vlieg) te vlieg. Die eerste duif terug in die Ellisras Duiweklub het om 13:40:57 oor die antenna van die duiweklok in die duiwehok geloop. Die mieliekleurige wyfie van Johan en Richie het die sowat 355 kilometer afgevlieg teen ‘n gemiddelde spoed van 1165 8800 meter per minuut (69.95 km/h). Die eerste duif terug in die ope-wedvlug in die klub is ook die eiendom van Johan en Richie en het ingeklok om 13:57:10. Die gemiddelde spoed van hierdie duif was 1219 9543 meter per minuut (73.19 km/h).
‘n Paar duiweboere het genoem dat hulle duiwe maar so stuk-stuk by die huis gearriveer het en dit wil voorkom of die duiwe so effe gesukkel het tydens die twee wedvlugte.
Die uitslae van die Parys Jaaroud-wedvlug is as volg: Johan en Richie 1, 3, 4, 6, 9 en 10 en Koos Burger 2, 5, 7, 8. Koos Myburgh het 15de geëindig, maar met ‘n baba wat in 2017 geteel is.
Parys Ope-wedvlug: Johan en Richie 1, 2, 3, 4, 5, 7, 8, 9, 10, Koos Burger 6 en Koos Myburgh 17.
Die “groot geeste” het al klaar gewys dat hulle vanjaar moeilik geklop gaan word. Hulle maak die pap sommer van die woord “go” af lekker dik aan. Johan en Richie is die vroeë voorloper in die wedloop as klubkampioen 2017 maar daar moet nog baie water in die see loop.
Baie geluk aan die wenners en aan al die lede wat goed gedoen het en sterkte aan die lede wat minder goed gedoen het.
Tot volgende week dan, groete van huis tot huis en mag die beste duif wen.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.