Duiwedinge

Johan Lee
LEPHALALE — Die derde en vierde amptelike wedvlug van die 2017 duiwewedvlugseisoen vanaf Bothaville is Saterdag 10 Junie gehou.
Die duiwe is onderskeidelik om 08:30 en 09:00 in mooi weer losgelaat en hulle het die sowat 420 kilometer (soos die kraai vlieg) sonder enige groot probleme afgelê.
Daar word elke naweek twee wedvlugte gevlieg vanaf dieselfde loslatingspunt, die een is ‘n kompetisie waarin net jaaroudduiwe mag deelneem (duiwe geteel en gering met 2016-ringe) en die ander ‘n ope-wedvlug waarin enige ouderdom duiwe mag deelneem.
Die eerste duif terug te Ellisras Duiweklub het om 15:24:08 oor die antenna van die duiweklok in die duiwehok geloop. Die bloubandkleurige wyfie van die Johan en Richie-span het die 420 km teen ‘n gemiddelde spoed van 1113.3857 meter per minuut (66.80 km/h) afgevlieg.
Die eerste duif terug in die jaaroud-wedvlug was ook van die Johan en Richie-span.
Dié mieliekleurige wyfie is ingeklok om 15:41:16 en sy het die afstand afgelê teen ‘n gemiddelde spoed van 991.7051 meter per minuut (59.50 km/h). Dit is redelik stadig in duiweterme. Die duiwe het weer stuk-stuk by die hokke aangekom.
Die uitslae van die Bothaville Jaaroudwedvlug is as volg: Johan en Richie 1, 2, 6, 7, 8, 9, Koos Burger 3, 4, 5, 10 en Koos Myburgh 18.
Bothaville Ope-wedvlug: Johan en Richie 1, 2, 3, 4, 5, 6, 8, 9, Koos Burger 7, 10 en Koos Myburgh 20.
Baie geluk aan die wenners en aan al die lede wat goed gedoen het en sterkte aan die lede wat minder goed gedoen het. Gelukkig is daar altyd ‘n volgende week indien die duiwe nie hierdie week wou voor kom nie.
Die span van Johan en Richie is die vroeë voorloper op punte in die gesogte Algemene Klubkampioenkompetisie en dit gaan ‘n groot poging kos om hulle te klop.
Tot volgende week dan, tot weersiens.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.