Duiwedinge

Johan Lee
LEPHALALE — Die tiende wedvlugnaweek (wedvlug 19 en 20) van die amptelike 2017-duiwewedvlugseisoen is Saterdag 5 Augustus vanaf Hopetown gevlieg, wat luglangs ongeveer 750 km vanaf Lephalale geleë is. Die duiwe is Saterdag onderskeidelik om 07:30 en 08:00 in mooi weer losgelaat vir die twee wedvlugte (‘n jaaroud- en ope-wedvlug).
Die duiwe het ‘n ligte noordwestelike wind gehad om mee rekening te hou en het die wedvlug afgevlieg teen ‘n gemiddelde spoed van net onder die 1 200 meter per minuut.
Die eerste duif terug te Ellisras Duiweklub het om 17:31:35 oor die antenna van die duiweklok in die duiwehok geloop. Die duif, eiendom van Koos Burger, het die 750 km wedvlug afgevlieg teen ‘n gemiddelde spoed van 1198.9752 meter per minuut (ongeveer 71.93 km/h).
Die eerste duif terug in die ope-wedvlug was Johan en Richie se duif wat ingeklok is om 18:05:10 en wat die afstand afgelê het teen ‘n gemiddelde spoed van 1249.6491 meter per minuut (ongeveer 74.97 km/h).
Wedvlug 19 se uitslae is as volg: Koos Burger – 1, 9, 10; Johan en Richie – 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8 en Koos Myburgh – 14.
Wedvlug 20: Johan en Richie – 1, 2, 6, 7, 8, 9, 10 en Koos Myburgh – 14.
Baie geluk aan Koos Burger en die span van Johan en Richie met hulle wenne hierdie naweek. Hierdie wedvlugte was lekker wedvlugte om te wen. Koos Burger is ‘n man wat glo in die oogteorie wat hy by ‘n Duitse duiweboer geleer het en hy hou net hoë kwaliteit duiwe aan wat hom altyd ‘n gedugte teenstaander maak. Dit is egter waar dat hy al ‘n gevestigde duiweboer is, vol wysheid.
Baie geluk aan die manne wat goed gedoen het en sterkte aan die manne wat gesukkel het. Die wedvlugseisoen is nog lank nie verby nie, want die vet ou tannietjie het nog nie begin sing nie. Almal kan dalk nie elke wedvlug wen nie maar almal kan elke wedvlug terdeë geniet.
Tot volgende week dan, “bye for now”.
(Let asseblief daarop dat die skrywer van die berig die uitslae in verlede week se Duiwedinge verkeerd aangedui het.
Dit is in werklikheid Koos Myburgh se duif wat ‘n sesde plek behaal het in die ope-wedvlug vanaf Colesberg en NIE Koos Burger nie. Jammer oom Koos – Red.)

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.