Duiwedinge by Edenburg

Johan Lee
LEPHALALE — Die agtste wedvlugnaweek (wedvlug vyftien en sestien) van die amptelike 2016-duiwe wedvlugseisoen is vanaf Edenburg gevlieg wat ongeveer 685 km vanaf Lephalale geleë is – dit is nou in ‘n reguit lyn.
Die duiwe is Saterdag 23 Julie onderskeidelik om 07:30 en 08:00 in mooi weer losgelaat. Die duiwe het die week weer ‘n bietjie hulp van die wind af gekry en hulle het die wedvlug afgevlieg teen ‘n gemiddelde spoed van net bietjie meer as 1 400 meter per minuut.
Die eerste duif terug in die Ellisras Duiweklub het om 15:30:38 oor die antenna van die duiweklok in die duiwehok geloop. Die duif van Koos Burger het die ongeveer 685 km wedvlug afgevlieg teen ‘n gemiddelde spoed van 1411.4210 meter per minuut (ongeveer 92.69 km/h). Die eerste duif terug in wedvlug sestien was ook Koos Burger se duif wat ingeklok is om 16:03:04 en hy het die afstand afgelê teen ‘n gemiddelde spoed van 1404.3113 meter per minuut (ongeveer 89.17 km/h).
Die uitslae van Edenburg Jaaroud (wedvlug 15) is as volg: Koos Burger 1, 6, 9, 10, Johan en Richie 2, 3, 4, 5, 7, 8.
Edenburg Ope-wedvlug (wedvlug 16): Koos Burger 1, 8, Johan en Richie 2, 3, 4, 5, 6, 7, 9, Koos Myburg 10.
Baie geluk aan Koos wat ‘n uitstekende duiwenaweek gehad het. Hy het die mededinging kaiings gevlieg deur die eerste duiwe in altwee die wedvlugte te klok. Welgedaan Koos! Die span van Johan en Richie is besig om goed te presteer, want hulle duiwe is nou gereeld aan die voorkant van die uitslae. Die kompetisie om die klubkampioenskap het nou in Johan en Richie se guns geswaai met Nico du Plessis in die tweede plek.
Daar is nou ‘n lekker gees wat heers by die duiweklub en die sportmangees is prysenswaardig en opreg. Die manne bespreek die probleme wat ervaar word met die duiwe en almal gee raad aan dié wat sukkel. Die vrouens is ook lekker betrokke en met dié dat die duiweklub nou ‘n kombuis ook het, word die koffie teen ‘n redelike spoed opgetower. Maar hulle moet altyd onder streng toesig werk, want hulle verloor konsentrasie wanneer hulle “knit one slip one” bespreek.
Lekker man! Welgedaan aan die lede wat goed gedoen het en sterkte aan die manne wat bietjie sukkel vanjaar.
Miskien het die duiwe net bietjie duifmalaria onder lede. Mag die duiwesport weer die week wen en mag ons altyd kleiner as die duiwesport bly!

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.