Duiwedinge — Christiana

Johan Lee
LEPHALALE — Die tiende wedvlugnaweek (wedvlug negentien en twintig) van die amptelike 2016 duiwe wedvlugseisoen is vanaf Christiana gevlieg wat ongeveer 530 km luglangs vanaf Lephalale geleë is – dis nou weer soos die kraai vlieg.
Die duiwe is Saterdag 6 Augustus onderskeidelik om 07:15 en 07:45 in mooi weer losgelaat in die twee ope-wedvlugte (enige ouderdom wedvlugte).
Die duiwe het ‘n ligte noordwestelike wind gehad om mee rekening te hou en het die wedvlug afgevlieg teen ‘n gemiddelde spoed van net meer as 1 300 meter per minuut.
Die eerste duif terug in die Ellisras Duiweklub het om 14:05:39 oor die antenna van die duiweklok in die duiwehok geloop. Die duif, eiendom van die span van Johan en Richie, het die 530 km wedvlug afgevlieg teen ‘n gemiddelde spoed van 1314.0114 meter per minuut (ongeveer 78.84 km/h). Die eerste duif terug in wedvlug twintig, natuurlik ook vanaf Christiana, was Nico en Sorinca se duif wat ingeklok is om 14:31:05 en wat die afstand afgelê het teen ‘n gemiddelde spoed van 1313.2732 meter per minuut (ongeveer 78.79 km/h).
Christiana Ope-wedvlug (wedvlug 19) se uitslae is as volg: Johan en Richie 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, Nico en Sorinca 9 en Koos Burger 10.
Christiana Ope-wedvlug (wedvlug 20): Nico en Sorinca 1, 2, Johan en Richie 3, 4, 5, 8, 9, 10, Koos Burger 6, 7.
Baie geluk aan Johan en Richie en ook Nico en Sorinca met hulle wenne hierdie naweek. Dit is goeie duiwe wat hierdie tipe wedvlugte wen. Nico du Plessis is ‘n man wat die pap lekker dik kan aanmaak wanneer die duiwe in vorm kom. Hy is weer besig om baie goed te begin doen. Die span van Johan en Richie is ook nou lekker op dreef. Dit is egter waar dat hulle nou reeds ou duiweboere is, vol wysheid. Hulle is nie verniet so grys nie.
Baie geluk aan die manne wat goed gedoen het en sterkte aan die manne wat gesukkel het. Die wedvlugseisoen is nog lank nie verby nie, want die vet ou tannietjie het nog nie begin sing nie. Almal kan dalk nie elke wedvlug wen nie, maar almal kan elke wedvlug terdeë geniet.
Tot volgende week dan, “bye for now”.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.