Duiwedinge — Edenburg

Johan Lee
LEPHALALE — Die agtste wedvlugnaweek (wedvlug vyftien en sestien) van die amptelike 2017-duiwewedvlugseisoen is vanaf Edenburg gevlieg wat ongeveer 680 km vanaf Ellisras geleë is – dit is nou in ‘n reguit lyn.
Die duiwe is Saterdag 22 Julie onderskeidelik om 07:30 en 08:00 in mooi weer losgelaat in die twee wedvlugte. Die duiwe het geen hulp van die wind af gekry nie.
Die eerste duif terug te Ellisras Duiweklub het om 17:49:26 oor die antenna van die duiweklok in die duiwehok geloop. Die duif van Johan en Richie het die 680 km wedvlug afgevlieg teen ‘n gemiddelde spoed van 1170.6121 meter per minuut (ongeveer 70.23 km/h).
Die eerste duif terug in wedvlug vyftien was Johan en Richie se duif wat Sondagoggend ingeklok is om 06:59:33. Dié duif het die afstand afgelê teen ‘n gemiddelde spoed van 1038.2907 meter per minuut (ongeveer 62.29 km/h).
Die uitslae van Edenburg Derby (wedvlug 15) is as volg: Johan en Richie 1, 2, 3, 4, 5, 7, 9 en Koos Burger 6, 8, 10.
Edenburg Ope-wedvlug (wedvlug 16): Johan en Richie 1, 2, 3, 4, 5 en Koos Burger 6, 8, 10.
Baie geluk aan Johan en Richie wat beide die wedvlugte gewen het. Die span is besig om goed te presteer, want hulle duiwe is gereeld aan die voorkant van die uitslae. Daar is ‘n lekker gees wat heers by die duiweklub en die sportmangees is prysenswaardig en opreg. Elke goeie prestasie word met luide applous toegejuig wanneer die uitslae bekend gemaak word.
Almal klap hartlik hande, behalwe dié wie se naels tot in die lewe afgekou is van spanning.
Welgedaan aan die lede wat goed gedoen het en sterkte aan die manne wat bietjie sukkel vanjaar. Miskien het die duiwe bietjie slym in die keel.
Mag die duiwesport weer dié week wen en mag ons altyd kleiner as die duiwesport bly!

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.