Duiwedinge — Edenburg

Johan Lee
LEPHALALE — Die dertiende wedvlugnaweek (wedvlug 25 en 26) van die amptelike 2016-duiwewedvlugseisoen is vanaf Edenburg gevlieg, ongeveer 685 km vanaf Lephalale.
Die duiwe is Saterdag 27 Augustus onderskeidelik om 06:45 en 07:15 in mooi weer met ‘n noordwestelike wind losgelaat.
Die duiwe het met die wind half van voor ‘n redelike taai wedvlug gehad en die hokke was Saterdagaand nog leeg. Die eerste duif terug in die Ellisras Duiweklub in die Edenburg Jaaroudkampioenskap het Sondagoggend om 06:30:51 oor die antenna van die duiweklok in die duiwehok ingeloop. Hierdie duif, die eiendom van ‘n uiters tevrede Koos Burger, het die sowat 685 km wedvlug afgevlieg teen ‘n gemiddelde spoed van net 935.8847 meter per minuut (56.15 km/h).
Die eerste duif terug in wedvlug 26 (ope-wedvlug) het oor die antenna van die duiweklok in die duiwehok geloop om 07:16:07. Hierdie duif behoort aan die span van Johan en Richie en het die wedvlug afgevlieg teen ‘n gemiddelde spoed van 932.3349 meter per minuut (55.98 km/h).
Edenburg Jaaroudkampioenskap (wedvlug 25) se uitslae is as volg: Koos Burger 1, 4, 5, 6, 7, Johan en Richie 2, 3, 8, 9, 10.
Edenburg Ope-wedvlug (wedvlug 26): Johan en Richie 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, Koos Burger 8 en 10, Koos Myburgh 9.
Baie geluk aan Koos Myburgh en ook aan die span van Johan en Richie wat die naweek se wedvlugte gewen het.
Koos Burger kook op die oomblik en die kompetisie het hulle hande vol om net ‘n ou plekkie te vlieg. Hy is gevra wat die geheim sou wees om so goed te vlieg en hy sê hy skryf dit toe aan goeie en gesonde duiwe, goeie gehalte kos en ‘n gebalanseerde oefenprogram. Klink maklik genoeg!
Koos Myburgh het ook weer in die top tien geëindig en die manne vertel dat hulle hom sien rondloop met so huppel in sy stappie. Geluk ook aan Koos.
Johan en Richie is gemaklik voor op die klubkampioen punteleer en Koos Burger is in die tweede plek as die algehele puntekampioen. Mooi so manne! Die spanning is aan die oplaai met net nog ‘n handvol wedvlugte wat oorbly vir hierdie wedvlugseisoen. Die laaste paar naweke beloof om baie interessant wees.
Baie geluk aan die manne wat goed gedoen het en sterkte aan die manne wat gesukkel het hierdie naweek. Groete van hok tot hok.
Tot volgende week dan.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.