Duiwedinge — Theunissen

Johan Lee
LEPHALALE — Die vyfde wedvlugnaweek (wedvlug 9 en 10) van die amptelike 2017- duiwe wedvlugseisoen is Saterdag 1 Julie vanaf Theunissen gevlieg. Theunissen is ongeveer 520 km vanaf Lephalale geleë – dis nou gemeet in ‘n reguit lyn, soos ‘n duif vlieg.
Die duiwe is onderskeidelik om 08:15 en 08:45 in mooi weer losgelaat in die twee wedvlugte en te oordeel aan die spoed wat die wenduiwe gehandhaaf het, was dit ‘n goeie wedvlug vir die duiwe.
Die eerste duif terug te Ellisras Duiweklub het om 14:54:56 oor die antenna van die duiweklok in die duiwehok geloop. Die duif van Johan en Richie het die 520 km afgevlieg teen ‘n gemiddelde spoed van 1302.7553 meter per minuut (ongeveer 78.16 km/h).
Die eerste duif terug in die ope-wedvlug was ook Johan en Richie se duif wat ingeklok is om 15:29:41 en wat die afstand afgelê het teen ‘n gemiddelde spoed van 1287.4641 meter per minuut (ongeveer 77.24 km/h).
Die uitslae van die Theunissen Jaaroud-wedvlug is as volg: Johan en Richie 1, 2, 3, 4, 5, 7, 8, 10, Koos Burger 6, 9 en Koos Myburgh 12.
Theunissen Ope-wedvlug: Johan en Richie 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, Koos Myburgh 8, Koos Burger 9 en 10.
Baie geluk aan Johan en Richie wat twee goeie wenne gevlieg het. Niemand het geweet Richie kan sing en jodel tot en met Saterdagaand nie. Ons hoor ook Koos Myburgh se bors het “gegroei” nadat die nuus van sy goeie agtste plek bekend geword het. Blykbaar 6 cm in ses minute – vertel die manne by die klub. Koos is baie vriendeliker by die duiweklub weg as wat hy daar aangekom het. Dis onbekend of hy dalk bietjie lagsap in die koffie gehad het.
Baie geluk aan elkeen wat goed gedoen het die naweek en sterkte aan die lede wat minder goed gedoen het. Wat die duiwesport so ‘n unieke sport maak is die feit dat enigeen daaraan kan deelneem. Enige ouderdom tussen ses en 106 kan werk. Dit maak dit nou regtig ‘n lekker familiesport en dit hou vir pa by die huis en dus uit die moeilikheid en uit die spaarkamer.
Till next time, bye for now.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.