Duiwedinge

Johan Lee
LEPHALALE — Die veertiende wedvlugnaweek (wedvlug 27 en 28 – twee ope-wedvlugte, enige ouderdom) van die amptelike 2016-duiwewedvlugseisoen het Saterdag 3 September afgeskop met ‘n vlug vanaf Christiana, ongeveer 530 km vanaf Lephalale. Die duiwe is onderskeidelik om 06:45 en 07:15 in mooi weer losgelaat, met redelike hoë temperature later in die dag.
Die duiwe het Saterdag so stuk-stuk met die wedvlugte klaargekry en ‘n paar duiwe het eers Sondag hulle hokke bereik.
Die eerste duif terug te Ellisras Posduifklub in die Christiana-wedvlug het Saterdag om 14:38:59 oor die antenna van die duiweklok in die duiwehok in geloop. Hierdie blouspikkelhen van Johan en Richie, het die sowat 530 km wedvlug afgevlieg teen ‘n gemiddelde spoed van 1138.4368 meter per minuut (68.30 km/h). Die eerste duif terug in wedvlug 28 vanaf Christiana het oor die antenna van die duiweklok in die duiwehok geloop om 15:20:56. Hierdie duif behoort ook aan die Johan en Richie-span en het die wedvlug afgevlieg teen ‘n gemiddelde spoed van 1110.4408 meter per minuut (66.62 km/h).
Christiana Ope (wedvlug 27) se uitslae is as volg: Johan & Richie 1, 2, 4, 5, 7, 8, 10, Koos Burger 3, 6 en Koos Myburgh 9.
Christiana Ope (wedvlug 28): Johan en Richie 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 9, Koos Burger 8 en 10.
Baie geluk aan die span van Johan en Richie met hulle wenne hierdie naweek.
Daar word regtig hard gevlieg op die oomblik en die gees wat heers by die duiweklub is uitstekend. Spanningsvol maar lekker!
Die Johan en Richie-span met die matig aantreklike Richie Pieterse aan die stuur, is nog redelik gemaklik voor met punte op die klubkampioenskap punteleer gevolg deur die talentvolle Koos Burger met die wedvlugseisoen wat nou einde se kant toe staan. Indien enige iemand ‘n troefkaart uit die hoed uit wil trek, dan is dit nou die tyd om dit te doen. Met die warm seisoen op ons moet die duiwe dalk bietjie met Furasol behandel word indien daar weer vir paratifus behandel moet word.
Baie geluk aan die manne wat goed gedoen het en sterkte aan die manne wat gesukkel het die naweek. Mag die beste duiwe voor vlieg.
“Till next time then, bye for now”.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.