EHS 2de uit 7!

LEPHALALE — Die vreugdevure het Saterdagaand hoog gebrand nadat Hoërskool Ellisras in die tweede plek geëindig het by die jaarlikse Interhoër Atletiekbyeenkoms wat vanjaar tuis aangebied was.

EHS was die hele dag in die leidende posisie, maar die aflosse aan die einde van die byeenkoms het hulle in ʼn tweede plek laat eindig.

Die wenners van die dag was Hoërskool Piet Potgieter met 530 punte. Hoërskool Ellisras was kort op hulle hakke met 523 punte – ʼn skamele sewe punte verskil. Hoërskool Frikkie Meyer van Thabazimbi eindig in die derde plek en stap weg met die sangbeker.

Hoërskole Nylstroom, Ben Viljoen, Hans Strijdom en Warmbad eindig onderskeidelik in die vierde, vyfde, sesde en sewende plek.

Volgens die organiseerders van die dag het die geleentheid al hulle verwagtinge oortref. Die reënweer was tot 03:00 Saterdagoggend ʼn kwessie en toe die besluit geneem word dat die Interhoër voortgaan, was daar geen keer nie. Toe die reën amper aan die einde van die byeenkoms Saterdag begin uitsak het dit niemand gestuit om steeds voluit deel te neem nie.

Die pawiljoene was volgepak met ouers en gaste, maar toe die Rassie-atlete tydens die optog voor die toeskouers verbyloop was daar ʼn spontane applous. Die dirigente-opkoms van al die skole, was soos elke jaar, ’n skouspel van kleur en musiek, tekenend van die jeug se vindingrykheid en borrelende entoesiasme.

Hoërskool Ellisras het 29 goue, 19 silwer en 22 brons medaljes gewen. ʼn Geil oes van 70 medaljes. Die sukses van die dag kan toegeskryf word daaraan dat al die atlete meer as hulle kant gebring het en nooit tou opgegooi het nie.

Paul Liddle, skoolhoof van Hoërskool Warmbad (gasheer Interhoër 2019), het Hoërskool Ellisras aan die einde van die dag bedank vir die fantasiese dag wat ’n voorbeeld was van kragdadige insette. Hy het ook gesê almal by EHS het die gaste baie welkom laat voel.

Waarnemende skoolhoof van Hoërskool Ellisras, Nils Meiring, sê só ’n dag gebeur nie net vanself nie. Die skool is ongelooflik dankbaar vir die ondersteuning van al die borge, ouers en vriende van die skool.

Derick Olivier word ook spesiaal bedank omdat hy ongeveer agt maande opsy gesit en spandeer het om die Interhoër te koördineer en tot in die fynste detail te beplan. ʼn Spesiale dankie ook aan Theunes van Staden wat aan die hoof gestaan het van die kosbeplanning.

Bravo Rassies!

(Sien die goue – en silver medaljewenners op Mogol Pos se Facebookblad)

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.