EHS – finaal wink

Steyn van Staden druk twee drieë, slaag in drie doelskoppe en ‘n strafskop
Steyn van Staden druk twee drieë, slaag in drie doelskoppe en ‘n strafskop

Fransa de Beer
LEPHALALE — Hoërskool Ellisras se rugbyspanne het Saterdag 11 Junie deelgeneem in die rugby-uitspele in die Limpopo semi-finale uitdunrondte in Louis Trichardt. Die dag het groot vreugde maar ook hartseer opgelewer vir veral Hoërskool Piet Potgieter.
Hoërskool Ellisras se o.14-span (wat nog geen punt teen hulle afgestaan het hierdie hele seisoen nie) wen Hoërskool Louis Trichardt 46-0. Dit was ‘n fees van drieë gedruk deur Janco Lötter (hy druk drie drieë), Nelius Grieshaber, JP van Staden, WP Vermeulen en Ruan Basson wat ook die skopwerk waargeneem het. Hulle spanbestuur, Rohan Besseling, Rudolph Fourie en Thildie Erasmus is besonder opgewonde oor die finaal en baie trots op dié bulle.
Hoërskool Ellisras se o.16-span het ‘n naelbytwedstryd gespeel teen Hoërskool Merensky, maar in die tweede helfte het die Rassies behoorlik laat waai en trots gewen met ‘n telling van 39-27. Drieë word gedruk deur Steyn van Staden (twee drieë, drie geslaagde doelskoppe en ‘n strafskop), Hannes Pretorius, Gerrie Blom, Tiaan Vorster en Zander du Plessis. Hierdie span se bestuur, Eddie Elmes, Fanus du Plessis en Nils Meiring word ook ywerig ondersteun deur Abie Elmes en Chris de Beer en hulle is verheug oor die sukses.
Die ander twee o.14-spanne in die semi-finaal was Hoërskool Piet Potgieter teen Hoërskool Merensky en Merensky wen die wedstryd 17-5. In die finaal speel EHS dus teen Hoërskool Merensky. EHS en Merensky se eindstryd het potensiaal om senutergend te wees.
Die ander twee o.16-spanne in die semi-finaal was Hoërskool Piet Potgieter teen Hoërskool Louis Trichardt en Hoërskool Piet Potgieter verloor in die laaste minute met een enkele punt met ‘n strafskop teen hulle. Die telling was 18-17. Hoërskool Piet Potgieter was in rou en baie teleurgesteld. In die finaal speel EHS dus teen Hoërskool Louis Trichardt.
Die Limpopo-finaal vind 24 Julie op Hoërskool Tom Naude se velde in Polokwane (Pietersburg) plaas. Die manne sê hulle sal dwarsdeur die vakansie baie hard oefen om in oefening te bly vir die bloedige stryd.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.