EHS maak bly by sportdag

LEPHALALE — Hoërskool Ellisras het Saterdag 2 Maart aan ʼn sportdag te Hoërskool Oos-Moot in Pretoria deelgeneem en die EHS-spanne skop die rugby- en hokkieseisoen op ʼn hoë noot af.

Die o. 16-span wen Oos-Moot met 17-0

Skoolhoof Adriaan Joubert en Eddie Elmes, afrigters van die o. 14-rugbyspan, is baie trots op hulle span wat die wedstryd teen Oos-Moot wen met ʼn telling van 12-7. Puntemakers is Dawie Louw wat twee drieë gedruk het en Unathi Nkomo se skopskoen het gewerk. Joubert sê dié span is ʼn voorbeeld van aanhou speel totdat die eindfluitjie blaas.

Die o. 16-span het aangeval en soos kampioene verdedig en hulle wen Oos-Moot met ʼn telling van 17-0. Punte word aangeteken deur Estiaan Higgo en Maynhardt du Plessis. Afrigters Theunes van Staden en James Marx is baie tevrede en sien uit na ʼn opwindende rugbyseisoen.

Die hokkiespanne het ook vir groot vreugde gesorg!

EHS se eerste span wen Oos-Moot met ʼn telling van 1-0. Die o. 15- en o. 14-span speel gelykop met tellings van onderskeidelik 0-0 en 2-2, die o. 14B-span wen 3-1 en die tweede span verloor 0-2 en die o. 16-span 3-1.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.