EHS-rugby floreer

Fransa de Beer
LEPHALALE — Hoërskool Ellisras se o. 14- en o. 15-rugbyspan het Saterdag 10 Junie die spanne van Hoërskool Frikkie Meyer in Thabazimbi se tande getrek. Dit was die laaste hekkie wat hulle moes oorkom om as ligawenners gekroon te word.
Die o. 14-span het 41–10 gewen. Jan du Plessis druk vier drieë en Vincent Makgae en Marvin Mofokeng druk elk een drie. Afrigters Johan Pitout en Theunes van Staden is baie trots op die manne!
Die o. 15-span wen 16–6 en drieë is gedruk deur JP van Staden en Tokkie de Beer. Ruan Basson het die skopwerk behartig.
Die eerste rugbyspan is naaswenners van die liga. Hulle punte is aangeteken deur Marco de Beer wat die skopwerk gedoen het en drieë is gedruk deur Hannes Pretorius en MC Pitout. Afrigter Eddie Elmes sê hy is baie beïndruk met sy span wat tot die heel laaste oomblik hulle alles gegee het.
Die Limpopo semi-finaal word Saterdag 24 Junie ook by Hoërskool Frikkie Meyer gespeel waartydens die o. 14-span teen Hoërskool Ben Vorster en die o. 15-span teen Hoërskool Merensky, albei van Tzaneen, gaan meeding. Albei wedstryde gaan stiptelik 10:00 begin. Die eerste span speel ook teen Hoërskool Ben Vorster en die wedstryd begin om 13:00.
Die Limpopo finale word na die vakansie gepeel.
Louis Campbell, skoolhoof, het Maandag 12 Junie die onderwysers, wat soveel ure aan ander mense se kinders spandeer om vir hulle geleenthede daar te stel, van harte bedank.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.