EHS sport

Fransa de Beer
LEPHALALE — Hoërskool Ellisras se leerders het ‘n bedrywige sportweek agter die rug.
Die onderskeie sportspanne het begin met ‘n sportdag teen Hoërskool Warmbad. Die rugbyspanne moes egter toekyk, want Hoërskool Warmbad bied nie meer rugby aan nie.
EHS se eerste hokkiespan het gejuig oor hulle oorwinning van 3-2. Die ouers en hul afrigter, George McAlpine, was in vervoering.
EHS se netbalspanne vaar uitstekend. Die o.16’s wen 19-4 en die eerste span wen 29-17.
Die tennisspelers het ook goed gevaar met Suanè van Niekerk, Malinda du Plessis en Henja Glas wat hul enkels wen met tellings van onderskeidelik 6-3, 5-4 en 8-1.
Die rugbyspanne het egter nie heeltemal stilgesit nie en het Saterdag teen Afrikaans Hoër Seunskool (Affies) by Affies se velde wedstryde gespeel.
Die spanne het nie teen Affies se A-spanne gespeel nie, maar hulle was nogtans dapper genoeg om die groot skool aan te vat.
EHS se o.14A-span speel dat dit klap en wen 28-22! Drieë word gedruk deur Jevan Human (buitesenter), Nelius Grieshaber (stut), WP Vermeulen (skrumskakel). Die skopwerk is behartig deur Ruan Basson. Hierdie span het hierdie hele seisoen nog nie een wedstryd verloor nie en mik vir die Beeldtrofee. Die tweede span wen hul wedstryd met ‘n telling van 25-7.
Die eerste span wat teen Affies se derde span gespeel het verloor met ‘n telling van 5-35, die o.15-span verloor 21-31 en die o.16-span verloor 0-22. EHS het ook ‘n o.14B-span saamgestuur wat 15-48 verloor het.
Hoërskool Ellisras se laaste ligawedstryde vind die komende naweek (29 Mei) teen Hoërskool Potgietersrus in Potgietersrus (Mokopane) plaas.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.