EHS sport vaar goed

Puntemakers van al die rugbyspanne

Fransa de Beer
LEPHALALE — Die rugby-, netbal- en hokkiespanne van Hoërskool Ellisras het Saterdag 25 Maart aan ‘n sportdag deelgeneem in Louis Trichardt by Hoërskool Louis Trichardt.
Die o. 14-rugbyspanne se wedstyd is vroegoggend in digte mis gespeel, maar hul afrigter sê al wat hulle eintlik moes weet is waar die doellyn is en die eindtelling bewys dat hulle wel uitgevind het waar die doellyn was. Hulle wen 31-0. Puntemakers was Jan du Plessis en Dries du Preez wat elk twee drieë druk en Mynhardt du Plessis druk een drie. Bryson Webb het die skopwerk behartig.
Die o. 15-rugbyspan wen met ‘n telling van 35-0. Puntemakers in dié span (wat verlede jaar gekroon is as Beeldtrofeewenners) is Tiaan Malan, Jevan Human, Tokkie de Beer wat elk een drie druk en WP Vermeulen wat twee drieë druk. Ruan Basson het al vyf drieë verdoel. Hierdie wedstryd was die 19de wen in ‘n ry vir die talentvolle jong span.
Die tweede span wen 17-7 en Erik van der Walt was baie in sy skik met die drie wat hy gedruk het. Steven Verwey en Hannes Pretorius druk ook drieë en Dian Pitout het die skopwerk behartig.
Die eerste span het ‘n naelbytstryd gehad, maar hulle wen uiteindelik met ‘n telling van 20-18. Volgens die spelers het Louis Trichardt se spelers ‘n luide ondersteuningsraamwerk langs die veld gehad wat moeilik kon glo hulle span wen nie! Steyn van Staden teken 15 van die 20 punte aan en behartig ook die skopwerk. Groot was die vreugde toe Zander du Plessis ook ‘n drie druk.
Die netbalspanne behaal gemengde welslae. Die o. 14A-span wen 11-2, die o. 14B-span wen 12-3, die o. 16A-span speel gelykop en die o. 16B-span wen 7-5. Die o. 15-span het verloor.
Die hokkiespanne behaal ook gemengde welslae. Die o. 15-span wen 2-1, die tweede span speel gelykop en die ander spanne verloor met enkele doele.
Skoolhoof Louis Campbell sê na alles is die eindtelling natuurlik belangrik, maar dit is belangriker hoe jy gespeel het en of jy tot aan die einde met vasberadenheid en geesdrif gespeel en dit geniet het.
Hy spreek ook sy dank uit dat al die busse en privaatvervoer veilig teruggekeer het met hul kosbare vragte.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.