Elmé is wêreldklas

Elmé saam met ‘n deelnemer van Porto Rico (links) en Groot Brittanje (regs)
Elmé saam met ‘n deelnemer van Porto Rico (links) en Groot Brittanje (regs)

Leoni Kruger
LEPHALALE — Om aan die grootste atletiekbyeenkoms in die wêreld deel te neem was altyd net ‘n droom ver buite haar bereik. Hierdie droom het vanjaar waar geword toe Elmé Young (45), ma van vier, getroud met ‘n pastoor, deelgeneem het aan die Wêreld Meesters-atletiekbyeenkoms in Perth. En boonop in al drie haar items na die finaal deurgedring het.
Vra ‘n mens vir Elmé hoe sy dit reggekry het, spreek sy net van dankbaarheid. Dankbaarheid teenoor die jongmense in hulle gemeente wat een Sondag na haar toe gekom en gesê het hulle het ‘n fonds gestig by die Mogolklub en diegene wat wil bydra kan geld daar inbetaal. “Die gemeenskap wou hê ek moes gaan. Alle kostes is betaal deur die gemeenskap se bydraes” sê sy.
Verder het sy geoefen dat dit bars. Sy het net drie maande gehad om haar vir dié wêreldbyeenkoms voor te berei.
En toe breek die groot dag aan. Elmé en Johann land op 23 Oktober in Perth. Op 24 Oktober het sy na die baan gaan kyk en geregistreer en op 26 Oktober het sy aan die 100 m deelgeneem en deurgedring na die finaal. “Ek het vir myself voor die tyd gesê as ek net die finaal haal sal ek voel ek het my doel bereik” sê Elmé.
Elmé het egter die finaal gehaal in die 100 m, 200 m en 400 m en boonop haar persoonlike beste tyd op al drie items verbeter.
“As daar een ding is wat ek geleer het, dan is dit om nie toe te laat dat iemand anders se voorkoms jou intimideer nie. Ek was verskriklik op my senuwees toe ek sien hoe lyk van die ander atlete in my ouderdomsgroep. Van hulle het gelyk of hulle pas van die Olimpiese Spele af teruggekom het, maar voorkoms kan bedrieglik wees. Die mense wat wen se koppe is reg” sê sy.
Nog iets wat haar verstom en haar hele perspektief verander het is dat ouderdom nie grense het nie. Die oudste deelnemer aan die kampioenskappe is 96! “Ek het verskriklik baie geleer. Om daar te kom en te besef die mense is eintlik maar net soos ek. Hulle het ook kinders, gesinne, huise en almal werk hard om hul doelwit te bereik. Ouderdom is net die begin van ‘n nuwe seisoen, nie die einde nie” sê Elmé.
Die sowat 50 Suid-Afrikaners wat deelgeneem het, het mekaar naderhand geken en Elmé sê sy het ook vriende gemaak met vroue van ander lande. 4 000 atlete van 92 lande het deelgeneem.
“Nou wil ek net hardloop” sê sy. Die volgende Wêreld Meesters is oor twee jaar in Spanje. Genoeg tyd vir Elmé om te oefen…

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.