Fenominale o.14’s

Ria Wells
LEPHALALE — Die o.14-rugbyspan van Hoërskool Ellisras is besig om hierdie jaar fenominale rugby te speel onder leiding van hul afrigters Rohan Besseling en Rudolph Fourie.
Hulle het tydens die AVS rugbytoernooi te Kroonstad (Bokkieweek) tweede geeïndig uit 16 unies. Noord-Transvaalunie was eerste. Nege van die seuns het die Verre-Noord Bokkiespan verteenwoordig. ‘n Verdere vyf seuns is opgeneem in die Verre-Noord Kavalierspan.
Tydens die Bokkieweek was die Sewesrugbykeurders teenwoordig en vier van Ellisras se o.14 seuns is vir dié span gekies wat gedurende Oktober deelneem aan die sewestoernooi.
Nóg goeie nuus is dat JP van Staden na afloop van die Bokkieweek gekies is vir die Duikerspan wat in Oktober na Namibië toer en Tokkie de Beer vir die uitnodigingspan.
Dit is ook noemenswaardig dat die o.14-span 259 punte tydens hul ligawedstryde aangeteken het en net vyf punte teen hulle afgestaan het.
Hulle het in die Limpopofinaal teen Merensky gespeel en na dié oorwinning uitgestap as Limpopokampioene! Hulle dring dus met gemak deur na deelname aan die wedstryde vir die Beeldtrofee wat Saterdag begin. Die eerste wedstryd is teen Hoërskool Brandwag.
Die o.14-span van Hoërskool Ellisras lê tans 16de op die SA-punteleer van alle skole, insluitende makroskole.
Gaan kyk gerus op hul Facebook-bladsy: ellisrasonderveertienrugbyspan

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.