Gholf én potte kook

Louis Campbell, skoolhoof van Hoërskool Ellisras en wenners Gert Pepler, Len Steyn, T. de Villiers en A. Scheepers. Voor sit Andre Niel Burger en Gerhard Pepler
Louis Campbell, skoolhoof van Hoërskool Ellisras en wenners Gert Pepler, Len Steyn, T. de Villiers en A. Scheepers. Voor sit Andre Niel Burger en Gerhard Pepler

Ria Wells
LEPHALALE — Dit het Saterdag 23 Julie behoorlik gekook tydens die Hoërskool Ellisras-gholfdag met Tamboti Toyota as hoofborg. Bykans 100 spelers het in beterbalformaat deelgeneem.
Die fondse wat tydens die gholfdag ingesamel is, word gelykop verdeel tussen die skool en vanjaar se matriekafskeidfunksie.
Die komitee, onder leiding van André Lotter (met vroulief Marlene aan sy sy), Martin Verwey, Sylvia Richards, Mariette Emslie, Dewald van Zyl en Adri Erasmus het aan die stuur van sake gestaan en bedank al die matriekouers wat hand bygesit het om van die gholfdag ‘n sukses te maak. Al die borge, veral Tamboti Toyota, is spesiaal bedank.
Behalwe vir die gholf is daar ook ‘n potjiekoskompetisie gehou waaraan ywerig deelgeneem is met potname “Iets van alles”, “Van ver potjie”, “Beesstert”, “Hawaïse Hoender”, “Bosvark”, “Lamspot”, ens.
Die man wat blykbaar weet hoe om die lekkerste pot te maak is Kobus Erasmus wat met die potlouere weggestap het. Beste smaak met boonop ‘n mielietoeter, sê beoordelaars Rencia van Deventer en Lizette Perrier. Die “Van Ver Potjie” van Shorty Hattingh het uitgehang met ‘n gedekte tafel, koffie en nagereg en die Geesvangprys gewen. Na die tyd kon gaste aan die inhoud van die verskillende potte smul.
At Vermaak het natuurlik die veiling waargeneem en, soos sy van aandui, vir groot vermaak gesorg. Goeie pryse is vir die veilingsitems behaal.
Die naaste aan die pen-wenners was Ferdie Smith op putjie 4 en Thebe Jacobs op 11. Die langste dryfhoue is op twee putjies, 2 en 13, deur Gerhard Pepler jr. geslaan.
Andre Niel Burger en Gert Pepler sr. het in die eerste plek klaargemaak, gevolg deur Len Steyn en Gert Pepler jr.
T. de Villiers en A. Scheepers het in die derde plek geeïndig.
Die hoërskool beplan om die gholfdag ‘n jaarlikse instelling te maak.
Daar is hope foto’s op Mogol Pos se Facebook. Gaan “like” gerus Mogol Pos se Facebookbladsy en deel die foto’s met jou vriende.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.