Goeie begin vir o. 11-krieket

LEPHALALE — Laerskool Bosveld Primary (LBP) se krieketspanne het op 1 en 3 Augustus met vanjaar se ligabepalings begin toe hulle teen Laerskool Krugerpark te staan gekom het. Dit was ‘n ronde waarin die tuisspanne in al drie ouderdomsgroepe met die louere weggestap het teen Laerskool Krugerpark.
Volgens die krieketafrigters was dit veral die o. 11-span se oorwinning teen Krugerpark wat hulle opgewonde maak.
Die Bossies moes hard werk vir die oorwinning nadat hulle ‘n kleinerige telling gehad het om te verdedig. Hulle het eerste gekolf en kon slegs 83 lopies aanteken.
Dit sou baie van die boulers verg om die wedstryd te wen, maar hulle het dit reggekry.
Krugerpark is vir slegs 59 lopies uitgeboul en die Bossies het met 24 lopies gewen. Henry Barnard (5 paaltjies vir slegs 8 lopies) en Alec Bester (3 paaltjies vir slegs 5 lopies) was die uitblinkers met die bal en met die kolf het Wihann Smit uitgeblink met 35 lopies.
Daar is sprake van ‘n moontlike uitspeelwedstryd later in die seisoen vir die o. 11-span.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.