Goue seun kry goud

Loutjie met sy goue medalje op die lughawe in Kaapstad op pad terug na die Bosveld

Leoni Kruger
LEPHALALE — Loutjie Steenekamp (18), die blits van Hoërskool Ellisras (EHS), het Vrydag en Saterdag 7 en 8 April aan Atletiek Suid-Afrika (ASA) se Junior kampioenskappe by Groenpuntstadion in Kaapstad deelgeneem en is met goud beloon.
Loutjie, tans ‘n matriekleerder asook hoofseun van EHS, sê hy het al in sy laerskooljare begin hardloop, maar het die laaste ses jaar baie ernstig begin oefen. “Ek is vir die laaste ses jaar al besig om ernstig aan atletiek deel te neem, maar hierdie is my heel eerste goue medalje wat ek by ‘n groot kampioenskap verwerf” sê hy.
Loutjie het Saterdag in die finaal van die o. 20s se 400 m hekkies eerste oor die wenstreep genael en hy is dus nou amptelik die SA Junior 400 m-hekkiekampioen.
Loutjie sê hy het Vrydag nie ‘n goeie dag gehad nie en ‘n sewende plek behaal in die 110 m hekkies.
Op ‘n vraag hoe ‘n normale dag vir hom verloop sê Loutjie dat hy om 04:50 opstaan en gereed maak vir skool. Vanaf 6:45 is hy by die skool en na skool doen hy sy huiswerk en kuier totdat hy om 16:30 begin oefen. (Oom) Jan-Jan Vos is sy afrigter en hulle maak ongeveer 18:10 klaar waarna Loutjie sy perde gaan versorg by die perdekamp. Daarna is dit weer huiswerk en ±23:00 is dit slaaptyd.
Loutjie sal graag volgende jaar by Tuks wil studeer en hoop dat hy ‘n beurs sal kry. Hy het ook al oorsese navrae gekry en die moontlikheid van ‘n sportbeurs vanaf World Wide Scholarships is nie uitgesluit nie. Sy groot droom bly egter om eendag aan die Olimpiese Spele deel te neem. Dit lyk of hy reeds ‘n groot tree nader is aan dié droom.
Loutjie bedank sy afrigter, Jan-Jan Vos, omdat hy so ‘n goeie afrigter is, Elmé Young wat hom vergesel het na die kampioenskappe en sy Hemelse Vader vir die groot talent wat hy ontvang het.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.