Harte vir KANSA

Ria Wells
LEPHALALE — Die jaarlikse Sanlam gholfdag is Saterdag by Mogolklub aangebied en 96 spelers het in IS-punteformaat deelgeneem. Volgens Jan Beyer, gholfbestuurder, was dit ‘n suksesvolle dag en hy sê dit is vir die klub ‘n voorreg om KANSA te kan ondersteun.
Hy het almal wat ‘n bydrae gemaak het, hetsy in kontant, deelname, pryse asook veilingspryse, hartlik bedank.
Gert du Plessis het die veiling waargeneem en ‘n miniatuur-beeld van rugbyspeler Pat Lambie het onder andere verkoop vir R2 000.
Susan Rothmann Lyons, gemeenskapsmobiliseerder vir KANSA Lephalale, sê mense wonder dikwels waarheen hulle bydraes vir KANSA gaan? Sy het verduidelik dat die geld bewillig word vir opvoeding rakende kanker asook kankernavorsing en dienste soos huise wat landswyd oopgemaak is vir huisvesting en die vervoer van mense wat geliefdes in hospitale het wat kankerbehandeling ondergaan.
Susan het die gaste uitgenooi om gerus ‘n draai te maak by die kankersaal in Polokwane Provinsiale hospitaal waarvoor KANSA ook bydraes gee. Sy het almal wat deel van dié gholfdag was bedank vir hul onbaatsugtige bydraes.
Die wenners was as volg: Naaste aan die penne was A Warrington op putjie 8 en Eddie Jacos jr. op 11.
In die A-divisie het Johan Nel die septer geswaai met Juan van Vuuren en Riaan Nel onderskeidelik tweede en derde. In die B-divisie was AW Besseling eerste gevolg deur Dave Diamond en Wayne Mulligan. In die C-divisie het Eddie Jacobs koning gekraai met Kato Clarke en Shane Pienaar tweede en derde.
Engela Nel wen die damesafdeling se A-divisie, Marinda de Lange die B-divisie en N van Vuuren die C-divisie.
Die totale bedrag vir Kansa ingesamel is R60 000.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.