Hoërskool Ellisras

EHS-spanne deur na Virseker-finaal

Die o. 14-span na hulle oorwinning teen die span van Hoërskool Overkruin in Pretoria

LEPHALALE — Die o. 15- en o. 16-rugbyspan van Hoërskool Ellisras het Saterdag 11 Augustus deurgedring na die finaal van die Virsekerbeker nadat albei spanne hulle wedstryde in die halfeindronde gewen het.

Die o. 16’s het op tuisveld gespeel teen die span van die Hoër Volkskool Heidelberg en die o. 15’s het in Pretoria gespeel teen die span van Hoërskool Overkruin.

Die o. 16’s se wendrie is in die laaste minute van die wedstryd deur Tiaan Oelofse aangeteken. Die spanning was tasbaar toe Ruan Basson sy bal stel om te skop, maar hy het nie teleurgestel nie en EHS wen met ʼn telling van 20-18.

Drieë word gedruk deur Nelius Grieshaber en Thinus van der Westhuizen. Ruan Basson slaag met een doel- en een strafskop.

Die o. 15’s wen hulle wedstryd teen Hoërskool Overkruin met ʼn telling van 16-12.

Puntemakers is Dries du Preez (wat die enigste drie gedruk het) en Mynhardt du Plessis wat nie een skop gemis het nie. Hy slaag met een doelskop en drie strafskoppe. Die afrigters bedank die ouers en grootouers wat Pretoria toe gegaan het om hulle kinders te ondersteun en saam die vreugde te vier.

Die o. 15’s speel Saterdag 18 Augustus in die finaal teen die span van Heidelberg Volkskool en die o. 16’s speel teen die span van Hoërskool Piet Retief. Albei wedstryde word op die LC de Villiers-stadion in Pretoria gespeel.


8 skiet by SA’s

LEPHALALE — Agt skuts van Hoërskool Ellisras se boogskutspan is gekies vir die Limpopospan wat binnekort aan die Suid-Afrikaanse Boogskietkampioenskappe gaan deelneem.

Dié talentvolle skuts is Codi Janse van Rensburg, FA Kemp, Mischka Witbooi, Armand du Plessis, Alwyn Vermeulen, Waldo Maritz en Brandon Perrier. Lindokuhie Radabe is gekies vir die ontwikkelingspan.


Toneel propvol talent

LEPHALALE — Inwoners van Lephalale en omgewing het verlede week die toneelgroep van Hoërskool Ellisras se toneelstuk “Die Droomverkoper” gesien en hulle was baie beïndruk met die talent.

Dié groep het gedurende die langnaweek deelgeneem aan die Tiernertoneel-interhoër wat deur Hoërskool Ellisras aangebied was.

Die toneelstuk, wat ʼn derde plek behaal het by die Interhoër, is geskryf deur Rolene van Vuuren, ʼn leerder van EHS.

Tianca Engelbrecht is aangewys as die beste akteur en daar is spesiale vermelding gemaak van EHS se tegniese span en regisseur.

Die toneelgroep bedank Anita Louw wat soveel ure afgestaan het om hulle met die toneel te help. Hulle vertrek eersdaags na Pretoria om deel te neem aan die ATKV-tienertoneel.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.