Hoërskool Ellisras-nuus

Virseker-wenners sê dankie

Die o. 16-rugbyspan van Hoërskool Ellisras se vreugde ken geen einde nie!

LEPHALALE — Die o. 16-rugbyspan van Hoërskool Ellisras, die wenners van die Virsekerbeker 2018, het Vrydag 24 Augustus deur die dorp gery om die gemeenskap te bedank vir hulle wonderlike ondersteuning.

Die seuns het saam met hulle afrigters, Rohan en Thildie Besseling en Rudolph Fourie en skoolhoof Adriaan Joubert al toetende met bakkies deur die dorp gery. Die werkers van besighede en motoriste het hulle toegejuig en almal is dit eens dat die vriendelikheid van die gemeenskapslede hulle diep raak.

Leerders van Laerskool Bosveld Primary in Onverwacht het die spelers met ope arms ontvang en gelukgewens. Leerders van Laerskool Ellisras het die optog by die skool se pawiljoene ingewag en toegejuig.

Na hulle draai deur die dorp is hulle terug na die Hoërskool se lapa waar hulle geëet het.

Die span en afrigters bedank die gemeenskap dat hulle saam met hulle juig en dankbaar is oor die oorwinning.

Hierdie span was in hulle graad 8-jaar die Beeldtrofeewenners.


Krieket-eerstes wen!

V.l.n.r.: Juan de Beer, Hendri Reynecke, Xander Higgo, Conrad Prinsloo en Lawrence Johnson van EHS se eerste krieketspan

LEPHALALE — Hoërskool Ellisras se eerste krieketspan het Hoërskool Ben Viljoen van Groblersdal se span Saterdag 25 Augustus op tuisveld met sewe paaltjies gewen. Die span van Ben Viljoen het 229 lopies aangeteken – almal uit.

EHS se beste kolwer was Conrad Prinsloo met 96 lopies (nie uit nie). Lawrence Johnson behaal 46 lopies en vat een paaltjie. Hendri Reynecke laat een paaltjie kantel, Juan de Beer twee paaltjies en Xander Higgo drie paaltjies. Xander teken ook 16 lopies aan.

Die was Saterdag ook die eerste span se afrigter, Naas Reynecke, se verjaarsdag en hy sê hierdie oorwinning was die beste geskenk waarvoor hy kon vra.


Slimstes!

V.l.n.r.: Jacki, Janco, Murangi en Joey (afwesig: Marnique)

LEPHALALE — Die volgende leerders van Hoërskool Ellisras het ʼn eerste plek behaal in die akademiese top-10-presteerders vir die tweede kwartaal:

Jacki Roos met 84,6% (graad 8), Janco von Ronge met 94,1% (graad 9), Murangi Sithari met 87,7% (graad 10), Joey Vorster met 89,3% (graad 11) en Marnique Gadda met 88,5% (graad 12).


EHS-toneel kry brons

EHS se toneelgroep het ʼn brons medalje ontvang by die ATKV-tienertoneelkompetisie

LEPHALALE — Hoërskool Ellisras se toneelgroep het Vrydag 24 Augustus aan die jaarlikse ATKV-tienertoneelkompetisie by UNISA in Pretoria deelgeneem en baie goed gevaar.

Die dekor ontvang ʼn silwer medalje en Teresa Derksen ontvang ʼn brons medalje vir haar toneelspel. Teresa is ook tydens die Interhoër aangewys as die beste toneelspeler in Hoërskool Ellisras.

Nog brons medaljes word ontvang vir beligting (dankie Kyle McDonald), kostuums, grimering en die produksie in geheel.

Die toneelspan bedank Anita Louw vir haar vindingrykheid met die dekor wat aan hulle ʼn silwer medalje besorg het asook vir Lizette Perrier vir haar bydrae met die kostuums.

Anita Louw bedank al die ouers wat haar gehelp en so ywerig hand bygesit het.

 

 

 

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.