Igor is ʼn aanwins

LEPHALALE — Igor Duvel, nuwe perkemeester by Mogolklub, is ʼn jong man met hope ondervinding as dit gaan oor die bou van sportbane.
Hy het ʼn totaal van agt jaar perkemeesterondervinding en die pos van perkemeester wat hy vanaf 1 November 2017 by Mogolklub vervul pas hom soos ʼn handskoen. Igor is sélf ʼn kranige gholfspeler met ʼn voorgee van ses.
Hy is ʼn boorling van Vryheid in KZN, maar het reeds deur sy beroep sy merk in Afrika gemaak.
Hy was aanvanklik vir drie jaar perkemeesterassistent by Centurion Country Club waarna hy een jaar as hoofperkemeester gewerk het by Millvale, ʼn privaat gholfbaan naby Koster. Een van die mees opwindende tye in sy loopbaan was toe hy ʼn hele gholfbaan gesaai en ingegroei het by Zanzibar Island Resort. Van daar is hy na Rwanda se nasionale sportvelde as instandhoudingbestuurder en as landskapargitek waar Igor ʼn gholfbaan asook ʼn krieketveld ingegroei het en na die sokkerveld moes omsien.
Hy het verneem dat daar ʼn pos by Mogolklub beskikbaar is, aansoek gedoen en die pos gekry. Hy sê dit is ʼn opwindende uitdaging en hy glo hy sal kan voortbou op die gevestigde goeie standaard.
Igor se toekomsplanne sluit egter ook ʼn verlowing in aan Dalinda Kotze, tans ʼn onderwyseres by Rustenburg Hoërskool. Dalinda sal haar weldra by Igor aansluit.
Neels Gerber, algemene bestuurder van Mogolklub, verwelkom Igor in hul midde, veral met sy uitgebreide kennis wat hy na die tafel bring.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.